NewsNews

SA atleet duik twee rowers plat om beursie terug aan damestudent te besorg

Die SA 400 meter atleet, Pieter Conradie, het met sy heldedaad verseker dat Danelle Jacobs haar gesteelde beursie terugkry. Conradie het man alleen twee skurke op die Bult platgetrek. Foto: Wouter Pienaar Toe twee misdadigers besluit het om ’n damestudent se beursie voor haar oë te steel, het hulle nie daarop gereken dat die SA …

Die SA 400 meter atleet, Pieter Conradie, het met sy heldedaad verseker dat Danelle Jacobs haar gesteelde beursie terugkry. Conradie het man alleen twee skurke op die Bult platgetrek. Foto: Wouter Pienaar

Toe twee misdadigers besluit het om ’n damestudent se beursie voor haar oë te steel, het hulle nie daarop gereken dat die SA 400 meter atleet, Pieter Conradie, soos blits op hulle hakke sou wees nie.

Conradie het met sy heldedaad verseker dat Danelle Jacobs, ‘n derdejaar student wat B.A. sielkunde studeer, haar beursie en foon teruggekry het, nadat hy die twee skelms met puik duikslae letterlik terug aarde toe gebring het.

Conradie het verlede Woensdagmiddag saam met ‘n vriendin koffie by Toro op die Bult gedrink, toe hy skielik ‘n gil hoor en sien hoe die skelms in die rigting van Borcherdstraat beweeg.

“Die adrenalien het behoorlik gepomp en ek het geweet ek moes doen wat reg is. Ek het gelukkig my tekkies aangehad toe ek hulle jaag. Hulle het nie verwag dat ek hulle sou agternasit nie. Ek het die een op die gras vasgetrek en in die duikslag het hy die beursie laat val. Ek het toe gelukkig die regte een gevang,” vertel hy.

Conradie het daarna met die verdagte in die rigting van Steve Bikostraat beweeg en ‘n polisiebeampte raakgeloop by wie hy die saak kon aanmeld. In die proses het die tweede skelm sy maat kom soek en het Conradie hom ook vasgetrek.

“Ek het hom herken en ons kon sommer albei vastrek. In daardie stadium het ek nie eers gedink dat hulle dalk messe kon hê nie. Ek het net my instink vertrou. Ek was lanklaas so uitasem nadat ek hulle ingehaal het. Ek voel nog steeds so ‘n bietjie styf nadat ek sowat 500 meter voluit moes hardloop,” noem hy met ‘n glimlag.
Jacobs was in die wolke nadat sy haar besittings teruggekry het en in ‘n kwessie van 10 minute ‘n warboel van emosies moes ervaar.

“Dit was eers ‘n groot skok, maar gelukkig wou almal om my help. ‘n Paar meisies het aangebied dat ons ry en kyk wat gebeur en dit is toe ons vir Pieter kry waar hy die skelm aan die polisie oorhandig.

“Ek het sommer daar ‘n klag gelê, maar dit is later teruggetrek omdat hulle minderjarig is. Dit het alles in ‘n kwessie van 10 minute gebeur. Dit is vir my ongelooflik dat daar nog so baie mense in die gemeenskap is wat so iets sal doen,” sê sy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button