NewsNews

Eskomskuld: Nuwe kopseer of uitkoms?

Waar 'n rokie is....brand daar dalk eersdaag 'n kersvlam.

Ngwathe vorder hoegenaamd nie met die afbetaling van sy enorme agterstallige Eskomskuld nie. die skuld was in Mei vanjaar reeds R959 miljoen.
Dit blyk duidelik uit ’n  finansiële verslag wat verlede Vrydag aan die burgemeester se spesiale taakspan oor Eskomskuld vir bespreking voorgelê is.
Raadslede was nie beïndruk met die verslag nie. Daar was skerp kritiek op amptenare oor die gebrek aan vordering, van sowel opposisie kant, asook van ANC-lede, selfs van burgemeester Joey Mochela persoonlik.
Dit blyk Eskom oorweeg weer opnuut om kragvoorsiening aan Ngwathe se vyf dorpe te onderbreek as gevolg van wanbetaling.
“Dis nie onverwags nie,” sê DA-raadslid Poloko Molaphene aan Gazette. Opposisielede wou in Mei nie een vir aanvaarding van die nuwe begroting stem nie. “Ons het destyds gewaarsku die projeksies oorskat die inkomste wat maandeliks uit kragverkope verdien word.”
Die munisipale bestuurder, mnr Bruce Kannemeyer, het egter die projeksies verdedig, en geswyg oor moontlike geldprobleme, sê hy.
Die DA sê dat Kannemeyer desnietemin binne weke aan Eskom moes skryf en uitstel vra vir delging van die skuld.
Ook rdl. Phillip van der Merwe (Vryheisfront Plus) het lank gelede reeds voorspel Ngwathe sou sy beloofde maandelikse afbetalings op sy agterstallige skuld van byna R1 miljard aan Eskom nie kan volhou nie.
Volgens hom moes amptenare die penarie betyds aan die raad voorgelê het, maar hulle het “tot onlangs nog die geldprobleme verswyg.” Hy het verlede Vrydag ook talle feitefoute en weglatings in die verslag aan die taakspan uitgewys.
Sy kritiek is ondersteun deur burgemeester Mochela, en die ANC-voorsitter van die Finansiële Komitee, rdl M Mofokeng.
‘n Nuwe herstelplan deur ’n firma genaamd Macrocomm is nou onder oorweging, en hulle span het reeds op 23 Julie met ‘n ondersoek begin.
DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, die ander opposisielid van die taakspan, wou Vrydag weet waarom daar al ‘n halfdosyn finansiële herstelplanne prakseer is, “maar absoluut niks gebeur nie, die planne vegader stof, en Ngwathe se skuld styg.”
Dit terwyl onwettige aansluitings voortgaan sonder optrede teen die skuldiges, en duisende eenhede gesteelde “spookkoepons” blykbaar steeds gebruik word, sonder dat Ngwathe ’n sent daarvoor ontvang, is gesê.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button