NewsNews

Tumahole-pyplyn onder Wesstraat gaan voort: Dit is wat jy kan verwag

Die opgradering van die pyplyn sal nie sonder ongerief wees nie, maar is nodig.

Ná aanleiding van die talle vrae en kommer oor die  nuwe riooluitval-pyplyn vanaf Tumahole na die rioolaanleg wes van die ou begraafplaas, is op Vrydag 27 Julie vergader juis om antwoorde te kry op uitstaande vrae en kwessies oor die pyplyn.
Twee sakelui van Parys, mnre. Andries Vrey en Saal de Jager, het tydens die vergadering ontmoet met die kontrakteur, amptenare van die munisipaliteit en mnr.
Ntoampe Thobela, tegniese direkteur van Ngwathe Munisipaliteit.
Dit volg na ’n publieke vergadering op Maandag 23 Julie oor die voorgestelde riool-pyplyn waar De Jager en Vrey (DA kandidaat vir die tussenverkiesing in Ngwathe op 5 September), deur inwoners en ander belanghebbendes afgevaardig is om met die munisipaliteit en kontrakteur te skakel, om antwoorde te kry.
Tydens dié vergadering is saamgestem dat die alternatiewe roete vir dié pyplyn in Wesstraat die beste oplossing is – veral in ag genome die huidige finansiële situasie van die munisipaliteit, en die munsipaliteit se onvermoë om infrastruktuur te onderhou.
Volgens De Jager is dit nie wenslik om elektriese pompe wat deur die munisipaliteit in stand gehou moet word te gebruik nie, en die addisionele koste aan elektrisiteit sal verdere druk op die munisipale-begroting plaas.
Deur die pyp na Wesstraat te verskuif kan riool deur gravitasie na die aanleg gelei word.
Gevolglik sal voortgegaan word met die pyplyn onder Wesstraat, maar dit sal deeglik gekommunikeer en gereguleer word, is gesê.
Van die kritieke punte wat met die munisipale verteenwoordigers en kontrakteurs bespreek is, is dat daar deurlopende kommunikasie met inwoners moet wees wat deur die werksaamhede geraak word, om ongerief te voorkom. Daar is ooreengekom dat die kontrakteurs kontakbesonderhede aan inwoners sal deurgee, en te alle tye beskikbaar sal wees om navrae te beantwoord, en om op probleme te reageer.
Daar is ook ooreengekom dat die tydlyn van die projek aan alle geaffekteerde inwoners gekommunikeer sal word, sowel as enige vertragings en veranderings wat weens onvoorsiene omstandighede sou opduik.
Daar word voorsien dat die projek op 13 Augustus in Wesstraat sal begin en sowat ‘n maand sal neem om af te handel.
Om die afhandeling van die projek te bespoedig sal daar ook Saterdae aan die projek gewerk word. Die kontrakteur het egter onderneem om daagliks teen 14:00 grondwerke te staak, om te verseker dat daar genoegsame tyd is om skade te herstel en oop slote op te vul sodat inwoners nie saans van toegang tot hul eiendom ontneem word nie.
Alle werkers aan die projek sal ook duidelik identifiseerbaar wees as veiligheidsmaatreël.
Daar is ooreengekom dat, as deel van die ooreenkoms tussen Ngwathe Munisipaliteit en die kontrakteur, duidelike kontraktuele vereistes gestel sal word ten opsigte van die herstel van enige dienste wat moontlik tydens die konstruksie beskadig kan word.
Voorsiening sal ook gemaak word vir boetes wat die kontrakteur opgelê kan word sou dié vereistes nie nagekom word nie.
Daar is benadruk dat die kontrakteur, volgens die ooreengekome kontrak, verantwoordelik sal wees om alle skade te herstel onder toesig van die munisipaliteit.
‘n Ernstige kwelling omtrent die nuwe pyplyn was die onvermoë van die inlaat by die rioolaanleg om die verhoogte riool-volumes te hanteer by voltooiing van die pyplyn.
De Jager en Vrey het dit duidelik gestel dat alle nodige stappe geneem moet word om ekologiese skade te voorkom, indien die aansluiting van die nuwe pypleiding tot rioolstorting lei.
Ngwathe Munisipaliteit het egter die versekering gegee dat die opgradering van die bestaande aanleg deur die Departement van Water en Sanitasie nie op die langebaan geskuif is nie, en dat die kontrak in dié verband tans in die proses van afhandeling is.
Die afvaardiging het benadruk dat ‘n projek soos die opgradering van die pylyn nie sonder ongerief sal wees nie, maar dat dié noodsaaklike opgradering van uiterste belang is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button