NewsNews

Slaggatongeluk terwyl ELM teer onwettig stort 

VANDERBIJLPARK. – Terwyl ongelukke weens slaggate daagliks plaasvind, stort die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) teer by die onwettige Stephanopark-stortingsterrein. ‘n Ongeluk het Maandag 9 Julie net voor 11:00 gebeur toe ‘n grys BMW in die linkerbaan in Piet Retief-boulevard in die rigting van VUT op pad was en uitgeswaai het vir ‘n slaggat van sowat …

VANDERBIJLPARK. – Terwyl ongelukke weens slaggate daagliks plaasvind, stort die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) teer by die onwettige Stephanopark-stortingsterrein.

‘n Ongeluk het Maandag 9 Julie net voor 11:00 gebeur toe ‘n grys BMW in die linkerbaan in Piet Retief-boulevard in die rigting van VUT op pad was en uitgeswaai het vir ‘n slaggat van sowat vier meter by een en ‘n halwe meter. Hy het ‘n wit Ford, wat langs hom in die regterbaan gery het gestamp en die bestuurder van die Ford, ‘n vrou, het beheer verloor en deur die heining van ‘n huis gebars.

Sy is op die toneel deur ER24 paramediese personeel behandel en na die hospitaal geneem vir behandeling. Volgens die eienaar van die huis, is daar baie skade. Sy kraan voor in die erf is afgery en hy moes die watertoevoer toedraai. ‘n Voertuig wat binne die erf gestaan het, is beskadig. Vensters is gebreek en rommel en stukke van die muur het tot by die voordeur gelê. Dit is reeds die tweede ongeluk wat plaasvind as gevolg van die spesifieke slaggat wat bestuurders laat skrik en laat uitswaai. Dieselfde tyd wat die ongeluk Maandagoggend in Piet Retief-boulevard plaasgevind het, het die lede van die Rusticana buurtwag, Francois Potgieter, Sybrand Smit en Willem Janse van Rensburg sedert 08:00 ‘n vragmotor ingewag wat glo dromme teer op die onwettige Stephanopark-stortingsterrein stort.

Volgens Francois, het Emfuleni se paaie departement se vragmotor net voor 11:00 opgedaag en het hulle die vragmotor voorgekeer. Die vragmotor was volgens die drywer vanaf dié departement af op pad na die stortingsterrein, en dit terwyl teer vanaf een van die dromme uitgelek en op die pad geval het. Toe Vaalweekblad by die stortingsterrein opdaag, was die drie lede van die buurtwag in ‘n argument met die bestuurder en die passasier van die trok betrokke. Sy verweer was dat die munisipaliteit nie geld het om die teer by die regte stortingsterrein te stort nie.

Die drywer het later in sy vragmotor geklim en dieper die stortingsterrein ingery waar hy die dromme afgegooi en weggery het. ‘n Polisiebeampte is ontbied, maar sy verweer was dat dit ‘n omgewingsaak is en nie ‘n kriminele saak nie. Daar is egter aan hom uitgewys dat die sleepwa geen nommerplaat het nie en dat die teer wat agter by die bak afloop, die ligte toegemaak het.

Die operateurskaart het ook einde Mei verval en die padwaardigheid laat veel te wense oor. ‘n Ruk daarna het die munisipaliteit se bywette-voertuig opgedaag en het hulle die registrasie van die voertuig, wat op die lisensieskyf was, by die Rusticana-buurtwag gekry. Die vragmotorbestuurder het egter in die rigting van die ou Vanderbijlpark-vliegveld gery. Volgens Francois sal die bywette-eenheid hulle vervolg. Terwyl dit aan die gang was, het ‘n bakkie daar gestop met twee mans met ‘n klein dogtertjie (sowat vier jaar oud). Sy het tussen die twee werkers in die bakkie gesit. Sybrand het hul genader en hulle het aan hom vertel dat hulle vir die skrootmetaaleienaar op die Potchefstroompad werk.

Twee buurtwaglede het die drie na die skrootmetaal-besigheid vergesel en ‘n groot aantal dromme wat na bewering deur die vullisgrawers as skrootmetaal aan die besigheid verkoop is, gevind. Die teer word op die stortingsterrein uitgekap en die dromme verkoop. Die buurtwaglede het aan die bestuurder van die voertuig gesê dat dit nie gepas is om so ‘n klein dogtertjie na ‘n stortingsterrein te bring nie.

 

Related Articles

Back to top button