NewsNews

Boere traag om besmetting aan te meld

Meld besmetting aan.

Hy’s ’n indringer soos min en tans een van die belangrikste probleemplante in Suid-Afrika. Tog blyk dit dat boere in die distrik traag is om bankrotbos-besmetting by departement landbou aan te meld. Dit was die terugvoer tydens ’n Land Care vergadering verlede Donderdag in Parys.
Dit nieteenstaande die feit dat bankrotbos (ook genoem slangbos of vaalbos) ’n geweldige ontploffing in veral die afgelope vyf jaar gehad het, ook in die Vredefort en Viljoenskroon-omgewings.
Land Care Vaal Eden/Vredefort Dome begin daarom reeds in September vanjaar ’n program waarmee op 886 ha in totaal gewerk sal word om 240 ha se bankrotbos op die plase Tarentaalkop, Zuid Witbank en Spitzkop, Vredefort, uit te kap.
‘n Soortgelyke projek sal ook in September op die plase Geluk, Bankfontein, Granietbank, Rooipoort, Vlakfontein en Wolwehoek gedoen word.
Albei projekte duur van September vanjaar tot Maart 2019. ‘n Totaal van R850 000 is deur Land Care fondse vir die projek vir die 2018/19 finansiële jaar begroot, en sal werksgeleenthede aan 64 mense bied.
Nog R1,4m word ook vir die projek aan die Vaal Oewer-kant begroot vir die 2019/20 finansiële jaar, en sal die projek jaarliks voortgesit word. Ook hier sal bewusmakingsprojekte geloods word, verkieslik langs die N1 en R59.
By die vergadering is gesê dat ten spyte van talle oproepe tot boere om besmetting aan te meld sodat selfs nog meer befondsing vir die kapprojek asook onkruiddoder gekry kan word, weinig terugvoer ontvang is.
Sonder boere se samewerking kan ‘n opname van hoeveel hektaar bankrotbos-besmetting daar werklik is, en wat boere se behoeftes is vir onkruiddoder vir die bestryding daarvan, nie akkuraat gedoen word nie. Sou die fondse gekry word vir onkruiddoder, kan boere naas die kapprojekte ook self met eie arbeid begin om bankrotbos op hul grond uit te roei.
Daarom sal nou gefokus word op bewusmakingsprojekte om boere meer betrokke te kry, veral in die Vredefort Koepel-gebied.
Grondeienaars kan ‘n afspraak met Schalk Burger by die departement landbou se kantore agter Jacks Paint in Loopstraat maak, sodat probleemgebiede op ‘n kaart aangedui kan word, en Land Care deur die departement landbou vir fondse vir onkruiddoder kan aansoek doen.
Onkruiddoder sal proporsioneel per hektaar onder aansoekers versprei word.
Daar is weer daarop gewys dat dit elke grondeienaar se eie verantwoordelikheid is om indringerplante uit te roei, en dat die departement landbou ondersteuning sal gee waar grondeienaars hul samewerking gee.
Bankrotbos hou ’n groot bedreiging in vir weiding en kan die produksiepotensiaal van weiveld met tot 75% verlaag. Met oorbeweiding is die verskyning van bankrotbos meer opsigtelik, maar in werklikheid dra oorbeweiding net by tot die indringing omdat die grasbedekking verminder en bankrotbos wat nie benut word nie, dan die kans kry om ongehinderd te groei.
Ou lande is veral vatbaar as gevolg van die gebrek aan kompetisie van grasspesies.
Miljoene ligte saad word ver deur die wind gewaai en voor jy jou kan kry, het dié plant buite beheer versprei, ongeag of jou veld in ’n goeie of swak toestand is.
Bankrotbos kompeteer sterk vir plantvoedingstowwe en grondwater en het allelopatiese eienskappe wat giftige stowwe afskei om die ontwikkeling en ontkieming van plante in hul onmiddellike omgewing te inhibeer.
So kan grasse heeltemal verdring word deur bankrotbos. Boonop bevat dit vlugtige olies wat hoogs vlambaar is en saam met hoë brandbare materiaal ‘n ernstige gevaar inhou by veldbrande, veral nou in die wintermaande.
Tesame met die Land Care projekte sal die sogenaamde Expanded Public Works Programme wat uit ander befondsing moontlik gemaak word, ook vir 2018 twee spanne beskikbaar stel met 32 mense wat sal help met die uitroei van bankrotbos in die Vredefort Koepel-gebied waar nodig. Só kan op meer plase gewerk word.
Wat die bestryding van waterhiasinte op die Vaalrivier betref, is GreenThorn Environmental Solutions se aansoek by die departement van omgewingsake vir die bestryding van wateronkruide in die Middelvaal-gebied van die Vaalrivier, goedgekeur. Die gebied strek vanaf die Barrage tot by Bloemhofdam.
Die voorlopige plan is om vier bestaande spanne in die Parys-omgewing, en sewe spanne by Bloemhofdam te laat werk, en om veral ook takke uit te haal waar waterhiasinte vassteek.
Alle oewereienaars wat bereid is om te help met die projek, word gevra om Schalk in Parys by 082 653 4281 te kontak.
Aangesien daar heelwat besmettings voorkom wat nie tydens die oorhoofse opname van Julie 2017 geïdentifiseer is nie, benodig GreenThorn meer inligting oor die voorkoms van besmettings en moet oewereienaars dit so gou as moontlik aan Schalk rapporteer.
Daar word ook beplan om weer ’n gemeenskapskomitee te stig om alle partye wat ‘n belang het by die rivier, op ’n gereelde basis in te lig oor die planne en vordering van wateronkruidbeheeraksies soos hierdie.
Almal wat belangstel kan met Schalk kontak maak.
Land Care Vaal Eden bedien die hele Parys-distrik en spreek verskeie kwessies aan.
Die Vaal Eden-komitee bestaan uit Renee Hartslief, Arnold de Beer en Devin en Reece Dedwith.
Vir enige navrae kan die komitee geskakel word by 071 448 4332, of mense kan ook die department landbou se kantoor in Parys by Loopstraat 71A besoek, of hulle by (056) 817 1094/5 kontak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button