NewsNews

Sussie help om 1.5 kg wonderwerkie in die wêreld te bring

“Marcelle is my held. Sy het my seuntjie en Charné se lewens gered en ek sal haar ewig dankbaar wees,” sê Bradley, die klein wonderwerkie se pa.

’n Gesin se lewe het Sondagaand drasties verander toe ’n “klein” maar groot wonderwerk in hul huis gebore is.
Charné Visser was die aand alleen by die huis met haar dogtertjie Ziané (4) toe sy voel iets is nie reg nie.

“Ek moes dringend badkamer toe gaan en toe ek van die toilet af opstaan toe val boetie in die toilet.”
Toe sy dié 1.5 kg wonderwerkie optel het hy dadelik begin huil.

“Ek het dadelik my sussie gebel en gesê sy moet nou kom. My huis se sleutels was in die motorhuis, so ek moes met my klein wonderwerkie opstaan en die sleutels gaan haal om vir my sussie die huis oop te sluit.”

Sy loop toe met haar pasgebore babatjie, naelstring steeds aan, om vir haar suster oop te sluit. Haar sussie, Marcelle Olivier, wat eintlik in Langebaan woon, was in Potchefstroom om vir haar skoonma te kom kuier toe sy Charné se oproep kry.

Bradley Walton en Charné Visser saam met hul wonderwerk-baba, klein David Ryan Walton. Foto: Marianke Saayman

Bradley Walton en Charné Visser saam met hul wonderwerk-baba, klein David Ryan Walton. Foto: Marianke Saayman

“Ek het in die kar op pad na haar ’n ambulans probeer bel, maar later Mooirivier Beskerming in die hande gekry,” sê sy.

Marcelle het ook vir drs. Hentie van Rensburg en Rikus Hattingh gebel wat vir haar oor die foon verduidelik het wat om te doen wanneer sy by haar suster kom.

“Toe ek daar kom het ek my dogtertjie se haarrekkie gebruik om die naelstring te knoop. Ek het Charné en die babatjie styf toegedraai om hulle warm te hou. Charné het baie gebloei en het ’n paar keer haar bewussyn verloor,” vertel sy bewerig. “Die babatjie was ook baie koud en bleek.”

Intussen het Mooirivier Beskerming daar aangekom en gehelp om ’n bank nader te skuif waarop Charné kon lê. Hulle het ook ’n ambulans ontbied.

“In ’n stadium was ek met dr. Joubert ook op die foon en hy het toe vir my beduie hoe ek die naelstring moet knip. Om net seker te maak dat die naelstring goed afgebind is, het ek nog ’n skoenveter ook gegryp en dit toegebind,” vertel Marcelle.

David weeg maar 1.5 kg en is op 32 weke gebore.

David weeg maar 1.5 kg en is op 32 weke gebore.

Marcelle sê dat die Here teenwoordig was aangesien sy nooit so kalm bly in sulke situasies nie.

“Ek het nie een keer bloed geruik nie. Ek het in ’n stadium in ’n plas bloed gestaan en nie my kop verloor nie. Ek dink die Here het net oorgeneem.

“Toe ons eers in die ambulans op pad hospitaal toe was, het die realiteit my eers getref en het ek besef watter wonderwerk dit is dat die ou mensie leef,” sê Marcelle.

Charné het geen idee gehad dat sy swanger was tot klein David Ryan Walton op 32 weke in die toilet gebore is. Charné sê klein David is heeltemal gesond en het nie een keer suurstof nodig gehad nie.

David se pa, Bradley Walton, was Sondagaand vir ’n troue in Durban en kon dit nie glo toe hy die nuus ontvang nie.

“Ek was baie deurmekaar en het op pad Potchefstroom toe heeltyd vir myself gevra of dit nie net ’n droom is nie,” sê hy. David is sy eerste kind en hy sê hoewel hy in skok is, hy ook baie opgewonde is.

“Ek is verlief op my seuntjie en verlief op Charné en ek is reg om ’n goeie pa te wees,” sê hy. Hy sê as dit nie vir Marcelle was nie, weet hulle nie wat sou gebeur nie.

“Marcelle is my held. Sy het my seuntjie en Charné se lewens gered en ek sal haar ewig dankbaar wees,” sê Bradley.

Die familie sê ook dankie aan Mooirivier Beskerming en al die dokters wat oor die foon hulp gegee het om klein David in die wêreld in te bring, asook die vriendelike en professionele diens wat hulle by Potchefstroom Hospitaal kry.

David sterk tans in dié hospitaal aan en kan huis toe gaan wanneer hy 1.8 kg weeg. Marcelle sê sy hoop dit gebeur voordat sy terugkeer Langebaan toe sodat sy net nog een keer die klein wonderwerkie kan vashou.

Related Articles

Back to top button