NewsNews

Grootste kreatiewe Afrikaanse kompetisie vir leerlinge en studente

Is jy as ouer al radeloos oor hoe om die kinders tydens die winterskoolvakansie besig te hou?

Hou hulle besig met dié wedstryd waarin ‘n kind R5000 en die wenskool R10 000 kan wen!

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het dan net die oplossing vir jou om hulle kreatief besig te hou en boonop kan hulle nog lekker pryse wen ook.

Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars. Jou kinders kan gratis inskryf vir die kompetisie deur die volgende skakel te volg

 

Vanjaar se tema is erfenis.

 

Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur.”

 

Wat sien jy as erfenis?

 

Albertus de Klerk van Walvisbaai beskou die bloedrooi boontjiekerwer in sy ma se kombuis as sy erfenis.

Die gesin is baie lief vir boontjiebredie en daarom het hy besluit om dié kerwer met sy kamera te verewig.

As foto’s dalk nie jou ding is nie, skryf ’n gedig, opstel of dagboekinskrywing oor iets wat jou baie na aan die hart lê of skilder dit.

 

Daar is sewe kategorieë waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef.

Dit sluit in dagboekinskrywings, ’n resensies, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns.

Jy mag in een of meer kategorieë deelneem.

 

Wie kan deelneem?

 

Alle graad 6- tot 12-leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië asook enige land ter wêreld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik of bestudeer word. Ons moedig veral ook studente van Afrikaansdepartemente aan universiteite regoor die wêreld aan om deel te neem. Op hierdie wyse sprei Afrikaans sy internasionale vlerke.

 

Alle inskrywings moet teen 31 Julie 2018 ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Inskrywing is gratis.

 

Wat kan jy wen?

Die wenskool ontvang R10 000 en die algehele wenner wat die uitblinker was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur ’n foto, opstel of gedig was, ontvang die wisseltrofee en R5000 kontant word gegee vir sy of haar skool.

Volg hierdie skakel en skryf in: https://ekspo.fak.org.za 

 

Ons jongklomp kan beslis nog pragtige opstelle in Afrikaans skryf. Geniet solank ‘n bydrae van ‘n deelnemer aan ‘n vorige wedstryd:

 

Wilandri Hills, Graad 10

Beskrywende Opstel

Kaskenades by die tandarts.

Die skare gaan mal… die bal kom nader… kaplaks!!! Dis ‘n kolskoot op my mond. Die baie bloed entand op die grond, veroorsaak konsternasie op die hokkiestasie. Meteens is dit net rooi ligte en ‘ndraagbaar. Tandarts, hier kom ek!

Met my tand in die hand stap ek beangs die spreekkamer binne. Ek kyk vas in ander se gesigte vanangs en vrees. Ek wonder wie se beurt volgende gaan aanbreek vir die oplegging van hulle doodsvonnis.

Ek hoor my naam… my uur het aangebreek! Dis nou of nooit…

Met swetende hande en ‘n hart wat wild bollemakiesie slaan, stap ek tree vir tree nader. Almal se oëvol simpatie. Is dit die einde van my kort lewe?

Suster Bets staan en wag. Sy het gekrulde swart hare en ‘n groot moesie op haar wang. Haar vriendelike oë laat my senuwees effens bedaar. Sy neem my na ‘n tandartsstoel wat beslis uit Noag se ark uit kom.

Terwyl ek wag, voel dit of die ysblou mure my gaan insluk en verswelg! Dokter Swanepoel verskyn met ‘n wit masker oor sy gesig. Sy grasgroen oë het ‘n kalmerende uitwerking op my. Die stoel beweeg skielik en dan… ‘n verblindende lig in my oë!

Meteens heers daar pandemonium in my mond! ‘n Pyp word by my mond ingedruk en dit roggel en druis, suis en blaas. Die dokter is besig met ‘n boor en ‘n vyl. Kan al hierdie dinge sowaar gelyktydig in my mond plaasvind? Ek knyp my oë styf toe.

Skielik is daar stilte! Geen pyn en sowaar… ’n spierwit tand terug op sy plek. Ek slaak ‘n sug van verligting. Ek leef sowaar! Die deur swaai oop en vriendelike gesigte verwelkom my! Met eens word ek saamgepers deur al die drukkies van my hokkiefamilie. Daar en dan weet ek, ons staan saam deur dik en dun!

 

Related Articles

Back to top button