NewsNews

So hou bejaardes kinderlyfies warm

Kyk net wat doen Sally Martin Park se bejaardes.

Kleurvolle breiwerk, spesiaal om kinderlyfies hierdie winter warm te hou, is deur 15 inwoners van Sally Martin Park gemaak, en aan Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) oorhandig.


Die bejaardes noem hierdie mooi uitreik van hulle, die “Kindervreugde 2018” projek.
Judy Scott en Cathy du Plessis (koördineerder van die projek), het besluit dat die skenking vanjaar aan VVA oorhandig sal word.


Die dames brei al van Oktober 2017 vir die projek. Die 81-jarige tannie Judy wat die afgelope sewe jaar blind is, het alleen 48 trui-tjies vir die projek gebrei.
Toe sy die boodskap gekry het dat dokters niks kon doen om haar sig te verbeter nie, het sy eenvoudig besluit dat dit haar nie sal onderkry nie, en sedertdien is haar breipenne nooit stil nie.
Haar oupa het haar op 5-jarige ouderdom leer brei. Sy vertel dat haar oupa haar wou besig hou omdat sy maar ’n woelige dogtertjie was. Sy vertel dat sy en haar oupa smiddae, met hul bolle wol voor in hul hemp gedruk, so brei-brei dorp toe gestap het. Omdat dit daardie jare oorlog was en breinaalde skaars en duur was, het haar oupa vir haar twee fietsspeke skerpgemaak en daar het haar groot talent ontwikkel.
Terwyl ons ‘n geselsie aanknoop vra ek haar hoe sy kan gesels en steke tel? Die antwoord kom met ’n skaam laggie: “Nee my kind, ek tel nie ek gaan net op gevoel.

Related Articles

Back to top button