NewsNews

Pa en seun jaag agter rowers aan

SJ Fourie en sy meisie, Madelein Rall, albei studente aan die NWU, het Saterdagaand na Mooirivier Mall gegaan vir ’n lekker pizza en fliek, maar wat hulle gedink het ’n heerlike aand uit sou wees, het toe in ’n nagmerrie verander.

’n Pa en sy seun het Saterdagaand tot binne Ikageng gejaag om rowers wat die seun en sy meisie met ’n mes gedreig het te probeer vastrek.

SJ Fourie en sy meisie, Madelein Rall, albei studente aan die NWU, het Saterdagaand na Mooirivier Mall gegaan vir ’n lekker pizza en fliek, maar wat hulle gedink het ’n heerlike aand uit sou wees, het toe in ’n nagmerrie verander.

“Na ons pizza gaan eet het, het ons gesien ons fliek begin eers oor twee ure. Ons het toe oor die bruggie na die parkeerarea gegaan. Toe ons op die bruggie is hoor ek Madelein, wat agter my geloop het, kliphard skree,” sê SJ.

Toe hy omdraai het daar ’n man met ’n mes in sy hand gestaan. Madelein het agter SJ inbeweeg maar die man het aanhou om die mes na haar te rig.

“Sy het kliphard gegil maar niemand het kom help nie. Die man het haar stilgemaak en vir ons gesê hy wil niemand doodmaak nie, hy en sy vriend is honger en hulle soek geld.”

SJ het net R50 by hom gehad en het dit toe vir die man gegee en gevra dat hy hulle uitlos, maar dit was nie genoeg nie. Hy het toe daarop aangedring dat hulle hul fone ook vir hom gee.

“Na ons vir hom die fone gegee het, het hy nog ’n rukkie daar met die mes gestaan voordat hy en sy vriend weggehardloop het.”

SJ en Madelein is toe na hul motor toe. “Ons het een van die karwagte daar vertel wat gebeur het en hy het saam met ons in die motor die mans agterna gesit.”

Hulle kon egter nie die verdagtes opspoor nie waarna hulle huis toe is.

“’n Mens het altyd by die mall veilig gevoel, want daar is soveel sekuriteit, maar daardie aand was daar niemand om ons te help nie,” sê SJ.

Sy pa, Fanie Fourie, het dadelik die polisie geskakel. “Hulle het vir my gesê dat hulle geen voertuie beskikbaar het nie en ek sal moet wag,” vertel hy.

Fanie het toe Mooirivier Beskerming gebel en binne vyf minute was ’n reaksievoertuig buite sy huis.
SJ sê sy foon het ’n ingeboude “tracking”-toestel en so het SJ, sy pa en beamptes van Mooirivier Beskerming met sowat vyf voertuie hul heksejag begin.

“Ons het hulle tot by die taxi staanplek gevolg en was by elke plek in waar hulle was, maar hulle was elke keer net een stappie voor ons,” sê SJ

Uiteindelik het die “tracker” gewys dat die foon op pad is Ikageng toe.

“Ons het hulle tot daar gevolg, maar toe verloor ons skielik die sein wat beteken dat die rower heel waarskynlik my foon moes breek, want ’n mens het my vingerafdruk nodig om dit af te sit,” sê hy. Na die lang jaagtog is SJ en sy pa huis toe.

“Ons het net by die huis gekom toe bel die polisie my en sê dat hulle voertuig buite my huis is,” sê Fanie. Dit was sowat twee ure nadat hy die polisie geskakel het. SJ sê hulle is baie gelukkig dat niemand beseer is nie aangesien die rower met die mes baie senuagtig was en dit soveel erger kon uitdraai.

Fanie bedank Mooirivier Beskerming vir hul toewyding en hulp. “Ek haal my hoed af vir hulle!”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button