NewsNews

Vuurwapens: Net so bietjie geduld vra polisie ná konstitusionele uitspraak

Die uitspraak in die konstitusionele hof in Johannesburg verlede week, ná ‘n jarelange hofgeding tussen die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), en die minister van polisie, het verreikende gevolge vir vuurwapeneienaars.

Die uitspraak beteken in effek dat vuurwapeneienaars nou vervolg kan word vir die besit van ’n onwettige vuurwapen as hulle nie betyds aansoek gedoen het om hul vuurwapenlisensies te hernu nie, of dan die wapen by die polisie ingehandig het nie.
In antwoord hierop het Beeld Dinsdag berig dat die polisie geduld vra van die publiek ná klagtes van vuurwapeneienaars waar hulle glo nie hul wapens waarvan die lisensies verval het, by polisiekantore kon inhandig nie. Die probleem is dat alle polisiekantore nog nie die kommunikasie ontvang het wat hul instruksie in dié verband gee nie.  Ook in die geval van die Parys-polisiestasie is instruksie nog nie teen Dinsdag ontvang nie.
Mense wie se lisensies wel in orde is en nie meer die wapen om watter rede ookal wil hê nie, en dit dan wil inhandig by die polisie, kan dit egter steeds doen soos in die verlede.
Wat die hofuitspraak vir vuurwapeneienaars beteken:
Verlede week se konstitusionele hof uitspraak beteken dat die besit van ‘n onwettige vuurwapen  jou 15 jaar agter tralies kan laat sit, sou jy skuldig bevind word.
Volgens die SAJWV se statistieke word tot sowat 300 000 wapeneienaars deur die uitspraak geraak.
Die hele dilemma volg ná die wet op Wapens en Ammunisie van 1969, in 2006 deur die Suid-Afrikaanse Wet op die Beheer van Vuurwapens 60 van 2 000 vervang is. Volgens die nuwe wetgewing het elke wapenlisensie ‘n vervaldatum. Wapens vir selfverdediging se lisensie verval na vyf jaar terwyl wapens vir geleentheidsjag en vuurwapens vir toegewyde jag of geleentheidsportskiet, na tien jaar verval.
Dit het beteken dat duisende vuurwapeneienaars wat reeds lisensies gehad het ingevolge die ou wetgewing, met die instelling van die nuwe wetgewing moes aansoek doen om hul lisensies te hernu. Vuurwapeneienaars kon hul aansoeke indien van 2006 tot 2009, en dié wie nie betyds was, sou hul lisensies verbeur.
Hierop het SAJWV ‘n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof gebring om die lisensies wat nog volgens die ou wetgewing uitgeneem is, geldig te hou hangende hul hof-aansoek.
Aansoeke vir lisensie hernuwings kon toe weer van 2011 tot 2016 ingedien word om hulle wat nie betyds hul lisensies kon hernu nie, kans te gee om dit te kon doen. Vroeg 2016 het die destydse waarnemende kommissaris van polisie, Khomotso Phahlane, egter aangekondig dat daar nie verder aansoeke aanvaar sal word nie en dat vuurwapeneienaars wat steeds nie hul lisensies hernu het nie, hul wapens by die polisie moes inhandig.
SAJWV is weer hof toe en het aangevoer dele van die wet is irrasioneel, vaag en skend mense se grondwetlike reg op gelykheid en beskerming van eiendom.
Omdat grondwetlike kwessies ter sprake is, moes die konstitusionele hof die uitspraak bevestig en is daar nou beslis dat geen van die artikels in die wet ongrondwetlik of irrasioneel is nie. Dit is nog onseker of daar wel ’n  amnestydperk gaan wees soos voorgestel is.

Related Articles

Back to top button