NewsNews

Nóg watermeterkaste uitgegrou en weggedra

Watermeterkas diefstal kring al wyer uit in Parys. Gazette het verlede week berig van die talle kaste wat nou reeds in verskeie strate in Parys gesteel is, vermoedelik om as skrootmetaal te verkoop.

Nog gevalle van dié diefstal is die afgelope week onder Gazette se aandag gebring by adresse in Eerstelaan, Mollstraat, Gradwellstraat, Uniestraat en Venusstraat onderskeidelik. Delver-, Van Coller- en Bredelstrate het ook al deurgeloop.
Volgens oudraadslid David Spence, wat ook verlede week slagoffer van die diefstal was, het die diewe vier van die 5 woonstelle by Makarios-woonstelle in Venusstraat, se metaal watermeterkaste verlede Donderdag helder oordag weggedra. Sy vrou, Heather, het die skade gesien toe sy met hul hond gaan stap het. In baie gevalle word die diefstal eers veel later deur huiseienaars ontdek wanneer hulle self, of die munisipaliteit die watermeterlesing wil neem.
Volgens Steve Naale, woordvoerder van die Ngwathe munisipaliteit, het die burgemeester, rdl. Joey Mochela, ’n  taakspan saamgestel om die diefstal van die watermeterkaste te ondersoek. ’n Aantal skrootwerwe is besoek en het die ondersoekspan volgens Naale, bevind dat hierdie inderdaad ’n  georganiseerde kriminele aktiwiteit is waar die kaste gesteel en by skrootwerwe in die Parys-omgwing verkoop word
Naale sê die munisipaliteit sal nóú saamwerk met die SAPD om hierdie misdaad aan te spreek. Hy het gevra dat inwoners wie se watermeterkaste gesteel is, dit aan die polisie sal rapporteer. Die munisipale noodnommer kan ook geskakel word by (056) 811 5834.
Wettiglik is die watermeterkaste munisipale eiendom en moet inwoners wie se watermeterkaste gesteel word, dit  dus by die munispaliteit rapporteer wat dan ’n  saak by die polisie kan open. Sou die munisipaliteit aandui dat hulle nie ’n  saak gaan open nie, is dit steeds die huiseienaar se prerogatief om dit by die polisie te gaan rapporteer. As die diefstal net gerapporteer word, is ’n  verklaring nie nodig nie, en word slegs ’n  inskrywing met ’n IB nommer van die diefstal gemaak, wat die polisie help om kennis te dra van diefstaltendense. Jy kan egter ’n verklaring aflê en ’n  saak open vir die diefstal sodat dit deur die polisie ondersoek kan word.  Sou jy ’n  klag wou lê en ’n  polisiebeampte weier om die verklaring af te neem, kan jy die voorval by die stasiekommissaris aanmeld. Sover vasgestel  kon word deur die Gazette is daar teen druktyd nog nie klagtes oor die diefstal deur die munispaliteit by die polisie gelê nie.
* Die munisipale afdeling by wie die diefstal vandeesweek gerapporteer is, het geen nota hiervan gemaak, of inskrywing van die polisie IB nommer nie.

Related Articles

Back to top button