CommunityNews

Spesiale wintergeskenk wag môre op bloedskenkers

Wêreld-bloedskenkermaand word gedurende Junie regoor die wêreld gevier, terwyl Wêreld-bloedskenkerdag op 14 Junie gevier word.

Op dié dag word daar internasionaal erkenning gegee aan bloedskenkers vir hul vrywillige, onbetaalde “lewensreddende geskenke van bloed”. Terselfdertyd skep dit ook bewusmaking vir die geweldige groot behoefte aan veilige, kwaliteit bloed en bloedprodukte.

Parysenaars kan môre, Dinsdag 12 Junie by die Hervormde kerksaal vanaf 13:00 tot 19:00 bloed skenk. Elke bloedskenker sal ‘n spesiale “beperkte uitgawe” wintergeskenk ontvang. 

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) moedig elke Suid-Afrikaner aan om by die groep van gereelde bloedskenkers aan te sluit wat die lewens van hul medemense op hierdie manier red. Veral skenkers wat nie in die afgelope paar maande bloed geskenk het nie, word gevra om asseblief te gaan skenk.
Wintermaande is tradisioneel ’n moeilike tyd vir bloedinsamelings, aangesien skole en universiteite vir die vakansie sluit.
Daarmee saam is daar ʼn toename in tipiese wintersiektes soos verkoues en griep, wat ’n reuse impak het op die insameling van bloed. Dit plaas die SANBD onder groot druk om genoeg, veilige en goeie kwaliteit bloed in te samel. Die SANBD moet te alle tye ʼn bloedvoorraadvlak van 5 dae handhaaf en doen dit deur 3000 eenhede bloed per dag in te samel om aan die behoeftes van die duisende pasiënte te voorsien wat op bloedoortappings staatmaak vir oorlewing.
As gevolg van die toename in die aanvraag vir bloed benodig die SANBD meer skenkers om te verseker dat bloed beskikbaar is vir diegene wat dit daagliks nodig het.
Die minimum vereistes vir bloedskenkers is dat jy tussen die ouderdom van 16 en 65 is, 50kg of meer weeg, goeie gesondheid geniet en ʼn veilige seksuele leefstyl lei.

Related Articles

Back to top button