News

NWU-Puk student verower Afrika-titel in Egipte

Die Potch-skoonheid Izelle van Vuuren (21), ’n student aan die NWU se Potchefstroomkampus, het weer eens groot gegaan toe sy Potchefstroom, Suid-Afrika en selfs Afrika by ’n internasionale skoonheidskompetisie in Egipte verteenwoordig het. Izelle het van 8 tot 28 April aan Miss Eco International 2018 by die Opera House in Kaïro deelgeneem.

Met haar blonde hare en Suid-Afrikaanse glimlag het sy die Miss Eco Africa-titel verower. ’n Wenner is gekies uit elke kontinent en daarna is ’n algehele wenner gekies. Izelle was die wenner van die Afrika-kontinent.

Sy sê dat die deelnemers op ’n verskeidenheid aspekte beoordeel is soos tydens onderhoude, ’n talentkompetisie, hul fiksheid, kleredrag wat insluit hul nasionale uitrusting sowel as aandrokke. Hulle moes ook elkeen ’n toerisme-video oor hul eie land verfilm het.

Izelle het die top 10 behaal in die fiksheid-kategorie en was ook een van die twee toppresteerders in die talentkompetisie. Sy sê dat sy die kompetisie baie geniet het en dat Egipte asemrowend is.

“Egipte is soveel meer as net piramides en faraos. Ons het die geleentheid gehad om soveel verskillende plekke en stede te besoek, insluitend Kaïro, Alexandria, Marsa Allam, Luxor en Ain Sohna.” Sy sê dat dit nog altyd op haar ‘bucket list’ was om die piramides van Giza te besoek en dat dit ’n asemrowende belewenis was om langs een te kon staan.

“Ons het ook die Groot Sfinks, internasionale biblioteke, tempels en die Nylrivier besoek. Ons het selfs gesnorkel in die Rooi See,” sê sy. Sy sê dat sy vriende hier gemaak het wat haar ’n leeftyd gaan hou en dat hulle reeds ’n reünie beplan.

“Ek wil hierdie geleentheid gebruik om al my borge te bedank wat hierdie vir my moontlik gemaak het.”
Izelle het ook onlangs in die World Beauty Queen Magazine, ’n internasionale tydskrif, verskyn. Sy is ook gekies om Suid-Afrika later vanjaar in Portugal en Kosovo te verteenwoordig.

Related Articles

Back to top button