NewsNews

Verrykende gevolge vir Ngwathe ná VF Plus hofsaak

Raadsvergaderings sonder behoorlike vooraf kennisgewing daarvan, blyk nou iets van die verlede te wees vir Ngwathe.

Die munisipale bestuurder en Speaker sal voortaan alle wetgewing oor kennisgewings van raadsvergaderings stiptelik moet nakom.
Daarmee saam is onwettige besluite wat die munisipaliteit geneem het tydens ’n vergadering in Oktober 2017, om miljoene se onreëlmatige en vrugtelose uitgawes te “kondoneer” sonder dat dit eers behoorlik ondersoek is volgens die wetlike vereiste, ook ter syde gestel.
Dié verrykende gevolge vir die Ngwathe Munisipaliteit volg ná ’n suksesvolle hofaansoek wat die Vryheidsfront Plus onlangs in die Hoë Hof in Bloemfontein teen die Ngwathe Munisipaliteit gebring het.
Ngwathe bedien die dorpe Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort.
Die bevel wat die hof nou uitgevaardig het, het nie net verrykende gevolge vir die Ngwathe Munisipaliteit spesifiek nie, maar ook ander munisipaliteite in die algemeen, sê VF Plus raadslid Phillip van der Merwe.
Van der Merwe, ’n  prokureur van Heilbron, en die VF Plus party, het die aansoek gesamentlik teen onder meer die Ngwathe burgemeester, die Speaker en munisipale bestuurder van die munisipaliteit geloods.
Dit was primêr daarop gemik om onwettige besluite wat die munisipaliteit by die vergadering op 5 Oktober 2017 geneem het, en waarkragtens miljoene rand se onreëlmatige asook vrugtelose uitgawes “gekondoneer” was sonder dat wetlike vereiste ondersoeke daarna gedoen was, ter syde te stel.
Die hof het die applikante gelyk gegee en beveel dat die uitgawes eers behoorlik ondersoek moet word voordat afskrywing daarvan oorweeg kan word. Die ondersoek moet onder andere bepaal of iemand vir skade wat die munisipaliteit as gevolg van nie-nakoming van wetlike prosesse mag gely het, verantwoordelik gehou moet, of kan word.
Die hof het ook gelas dat die munisipale bestuurder en Speaker voortaan die munisipaliteit se eie Staande Reëls Bywet, asook bepalings vervat in die Munisipale Stelselswet Nr 32 van 2000, wat verband hou met kennisgewings rakende raadsvergaderings, stiptelik moet nakom.
“In Ngwathe, en ek verneem in vele ander munisipaliteite ook, word meestal onvoldoende kennis van vergaderings aan raadslede (en basies geen aan die publiek) gegee nie. Dit laat raadslede met onvoldoende tyd om behoorlik vir vergaderings, waarvan die agendas telkens letterlik honderde bladsye beslaan, voor te berei en skep ruimte vir die neem van ondeurdagte besluite” sê rdl. Van der Merwe.
“Sou die munisipale bestuurder en Speaker, wat verantwoordelik is vir die belê van vergaderings, nieteenstaande die hofuitspraak volhou met die wanpraktyke wat tot hede met die belê van vergaderings hoogty gevier het, sal hulle nou krimineel van minagting van die hof aangekla kan word” voeg hy by.
Raadslede in ander munisipaliteite waar dieselfde probleem ervaar word sal waarskynlik ook baat kan vind by die Ngwathe uitspraak.

Related Articles

Back to top button