NewsNews

Berugte R59-roete buite Sasolburg eis nog ‘n lewe

Middeljarige vrou sterf in botsing; jong man beseer

‘n Vrou (48)  is Saterdag, 26 Mei dood, en ‘n 24-jarige man beseer in ‘n botsing tussen twee voertuie op die R59-roete buite Sasolburg.
Die botsing het vroegoggend op die gedeelte van die pad naby die Taaibosspruit digby Vaalpark plaasgevind.
Inneke van Huyssteen, ‘n woordvoerder van ER24, sê paramedici het omstreeks 06:00 op die toneel opgedaag en een van die voertuigwrakke in die pad aangetref en die ander een in die veld.
Die vrou het buite haar voertuig in die veld gelê nadat omstanders haar vermoedelik uit haar voertuig gehaal het. Sy het egter reeds gesterf en is amptelik op die toneel dood verklaar.
Die man het steeds in sy voertuig gesit en is deur paramedici op die toneel bygestaan, waarna hy per ambulans na ‘n hospitaal geneem is vir verdere waarneming. Hy het skynbaar net geringe beserings opgedoen.
Die polisie het nog nie die name van die betrokkenes aan die media uitgereik nie. Die oorsaak en omstandighede van die ongeluk is nog nie bekend nie en word deur die polisie ondersoek.

 

Related Articles

Back to top button