NewsNews

Tussenverkiesing kom vir DA in wyk 12; takvoorsitter moet ook gekies word

Saal de Jager, DA-raadslid vir wyk 12, het die afgelope naweek sy bedanking as raadslid aangekondig.

De Jager het op sosiale media geskryf hy doen dit met gemengde gevoelens, maar glo dis nodig vir sy gesondheid en sy lewensgeluk. Hy het Parysenaars bedank vir hul geduld wanneer munisipale dienslewering faal, soos dikwels gebeur.
Talle mense het met spyt en hartseer gereageer, en daar was groot waardering vir sy geesdrif en vakkennis waarmee hy munisipale probleme hanteer het.
“Ek is bitter spyt Saal bedank,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. Hy sê Saal moes egter baie ure afstaan, “eenvoudig omdat munisipale amptenare nie hulle werk doen nie.”
Hoewel De Jager aanbly as DA-lid, sal aansoeke nou ingewag word vir kandidate vir sy vakante posisie.
As slegs die DA ‘n kandidaat benoem sal sy of hy onbestrede verkies word. As meer as een party kandidate benoem, sal ‘n tussenverkiesing in die wyk binne drie maande plaasvind.
Die plaaslike DA-takbestuur moet ook dringend vergader om ’n waarnemende voorsitter aan te wys, na die onverwagte afsterwe van dr. Hannes van Niekerk, wat die takvoorsitter was.
Dr. Van Niekerk is op 8 Mei in sy slaap in sy huis in Parys in die ouderdom van 73 jaar oorlede. Die roudiens was verlede Vrydag (18 Mei).  Hy word oorleef deur Lalla, sy twee dogters, Rachelle Nel en Jule Botha, asook vyf kleinkinders, twee broers en twee susters.
Hy was vir langer as 30 jaar in Parys gevestig nadat hy as skoolhoof in Randfontein afgetree het. Dok Hannes het Anana Homes hier begin waar hy gemoeid was met die ontwikkeling en verhuring van eiendomme. Hy was ook vir 16 jaar betrokke by Basa Park.
’n Nuwe bestuur vir die plaaslike DA-tak sal later tydens die jaarvergadering verkies word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button