NewsNews

Man op R59 geskiet – familie soek antwoorde

Vier dae voor Kersfees het die Kleinschmidt-gesin se lewe onherroeplik verander toe Thomas Kleinschmidt (43) koelbloedig op die R59 tydens ‘n vervalste padblokkade geskiet is.

Thomas, pa van drie pragtige dogters, was op 21 Desember aan diens en het gewapende begeleiding gebied vir een van die vragmotors vir die maatskappy vir wie hy gewerk het. Die vragmotor is egter by die Swartkoppies-afrit op die R59 deur agt mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, afgetrek. Hulle voertuie was gemerk en in daardie stadium het die padblokkade nie verdag gelyk nie.

Die bestuurder van die vragmotor is gevra om uit die voertuig te klim waarna hulle die lisensieskyfie besigtig het. Volgens ‘n ooggetuie het Thomas eers nader beweeg toe hy sien dit is ‘n padblokkade. Twee van die mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, het na sy voertuig gestap en hom gevra waarom hy gestop het, want hulle het net die vragmotor afgetrek. Thomas het hulle verduidelik dat hy gewapende begeleiding  vir die vragmotor bied en daarom het hy gestop. Hulle het hom gevra om sy dokumente aan hulle te oorhandig en daarna is hy gedwing om na die agter sitplek van sy voertuig te skuif.

Wyle Thomas Kleinschmidt.

Volgens twee ooggetuies, wat ook in Thomas se voertuig gedwing is, het een skoot afgegaan. Thomas se liggaam is later in die veld onder ‘n boom gevind. Sy besittings was steeds in die voertuig. Die vragmotor is ook verlate by die Kliprivier-afrit gevind, terwyl die bestuurder van die vragmotor in ‘n oop veld afgelaai is. Slegs een pistool en selfone is gesteel.

“Uit my ondervinding as ‘n privaatspeurder en voormalige polisiebeampte was hierdie ‘n beplande misdaad wat skeef geloop het toe Thomas geskiet is. Die toneel is ook opgeruim deur Thomas se liggaam te skuif asook sy voertuig en die vragmotor te skuif en dit verlate te los. Daar is ook geen koeëldoppie in ‘n 100m radius van die moordtoneel gevind nie,” sê Kobus Meyer.

Die voorval word deur die Brackendowns SAPD ondersoek, maar dit vorder egter stadig. Indien enige persoon inligting het rakende die voorval, of ‘n soortgelyke voorval kan Kobus Meyer by 083 789 9990 geskakel word, of stuur ‘n epos na kobusmeyer@pandcservices.co.za

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button