NewsNews

Nog ‘n terugslag vir 6: Regsspanlede onttrek

Die soveelste terugslag in die verhoor van die ses mans van Parys wat tereg staan op die moord van Samuel Tjixa en Simon Jubeda, het vanoggend (Woensdag 16 Mei) gekom nadat adv. Koenie Pieterse wat vir al  6 die  beskuldigdes verskyn het, asook prokureurs Hannes Grimbeek wat kapt. Henk Prinsloo verteenwoordig het, en Kobus Burger …

Die soveelste terugslag in die verhoor van die ses mans van Parys wat tereg staan op die moord van Samuel Tjixa en Simon Jubeda, het vanoggend (Woensdag 16 Mei) gekom nadat adv. Koenie Pieterse wat vir al  6 die  beskuldigdes verskyn het, asook prokureurs Hannes Grimbeek wat kapt. Henk Prinsloo verteenwoordig het, en Kobus Burger wat Anton Loggenberg en sy seun, Cor, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren verteenwoordig het, van die saak onttrek het.

Dit beteken dat die verhoor wat tot Vrydag 18 Mei op die hofrol geplaas was, nie kan voortgaan nie, en uitgestel is na Vrydag 8 Junie om die beskuldigdes kans te gee om ander regsverteenwoordiging te kry. In effek beteken dat elkeen nou sy eie regsverteenwoordigers moet kry.

Die ontrekking van van die lede van die regsspan het gekom ná kruisondervraging van nog een van die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, waarmee Maandag begin is, en waaruit sekere kwessies gekom het wat ‘n moontlike botsing van belange kon veroorsaak wat al ses beskuldigdes kon affekteer, sou die regsspan aanbly.

Hofverrigtinge is Dinsdag reeds vertraag nadat die kwessie van moontlike botsende belange ter sprake gekom het en regter Corné van Zyl die saak uitgestel het na vanoggend (Woensdag 16 Mei) sodat die regsspan genoeg tyd vir oorweging en oorlegpleging met hul onderskeie regsliggame kon hê.

Die uiteinde is die besluit om te onttrek, met die uitsondering van Gideon Mandelstam, wat Boeta van der Westhuizen verteenwoordig en nou nog ‘n advokaat vir verskyningsdoeleindes sal aanstel.

Adv. Pieterse het aan regter Van Zyl gesê dat hul opsies aan al die beskuldigdes verduidelik is, en dat Anton Loggenberg sy eie regsverteenwoordiging sal kry, terwyl kapt. Prinsloo, Cor Loggenberg en Loedie van der Westhuizen sal aansoek doen om regshulp. Miela Jansen van Vuuren sal ook sy eie regsverteenwoordiging kry.

Die saak sou aanvanklik na Vrydag weer van 4 tot 8 Junie in die Hoë Hof in Parys hervat het, maar die uitstel na 8 Junie is slegs om die regsverteenwoordiging vir die beskuldigdes uit te sorteer. Sou daar dan regsverteenwoordigers aangestel wees, sal verhoordatums bepaal kan word, het regter Van Zyl gesê. As dit egter sou gebeur dat daar steeds nie regsverteenwoordiging is nie, sal nog verdere uitstel vir die saak gegee moet word.

Regter Van Zyl het gesê dat dit ‘n baie ongelukkige situasie is, maar dat in die lig van wat sy meegedeel is, sy geen ander keuse het nie.

“Daar kan nie van die beskuldigdes verwag word om oornag regsverteenwoordiging te kry nie,” het sy gesê en dat dit ongelukkig ‘n proses is wat gevolg moet word wat tyd kan neem.

Sy het benadruk dat sy weet almal angstig is om die verhoor af te handel, insluitend haarself, maar dat sy glo dat die beskuldigdes hul bes sal doen om so spoedig moontlik verteenwoordiging te kry.

Sy het Boeta van der Westhuizen gemaan dat hy steeds onder kruisverhoor is, en dat hy hoewel dit nie die ideaal is om nou die verhoor uit te stel nie, onder geen omstandighede die saak of sy getuienis met enigeen mag bepreek nie. Sy het gewaarsku dat sou hy met enigeen oor die saak, gebeure of inhoud van sy getuienis praat, dit geweldige gevolge vir die saak kan inhou.

Al ses beskuldigdes se borgtog is verleng.

Die staat het reeds sy saak gesluit waarin hy beweer dat Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen, Miela Jansen van Vuuren, kapt. Henk Prinsloo, Anton Loggenberg en sy seun Cor, na bewering Tjixa en Jubeda op 6 Januarie 2016 sodanig op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik sou aangerand het dat hulle kort daarna in twee afsonderlike hospitale oorlede is. Die oorledenes is na bewering daarvan verdink dat hulle betrokke was by ‘n plaasaanval kort voor die aanranding, op Loedie van der Westhuizen Sr. Loedie Sr is 4 maande gelede oorlede.

 

Related Articles

Back to top button