NewsNews

Parys doen dit weer – soos in 2011

Dit is amptelik - Parys is die Vrystaatse finalis in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie, aangebied in samewerking met Afrikaans.com, KIA en Na- tional Accommodation Association of South Africa (NAA SA).

Net soos in 2011 staan Parys nou in die finale pylvak. Die verskil – vanjaar het Parysenaars weer die kans om te kan stem vir hul dorp vir die wenkroon.
Al wat jy moet doen is om wanneer al nege finalis-dorpe aangewys is, vanaf 27 Mei om 18:00 tot 1 Junie om 12:00 vir die wendorp van jou keuse te stem, deur slegs die woord Parys te SMS na 33157. SMS’e kos R1.50 en slegs 30 SMS’e per nommer word toegelaat.
Die wendorp word op 17 Junie op Kwêla aangekondig. Die dorp wen ’n ongelooflike R1-miljoen se bemarkingswaarde van kyk-NET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45-sekonde advertensie oor die dorp vervaardig wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot KIA-dorp-van-die-jaar-makietie in die wendorp gehou word.
Onthou moenie nou SMS nie – jou stem is nodig sodra die nasionale rondte se stemlyn oop is.
Dit gaan nie oor watter dorp die skoonste is of die beste munisipaliteit het nie, maar waar die mooiste, lekkerste en hartlikste kuierdorp in die land is. En waar dan beter as net hier in Parys?
As jy gewonder het waarom jy moet stem vir Parys, is die lysie lank. Parys is nie net baie sentraal geleë nie, maar spog met historiese geboue soos die Anglikaanse Kerk wat met blou granietblokke in 1915 gebou is, en die pragtige NG Moederkerk-gebou wat dateer uit 1899. Moet ook nie vergeet van die museum wat in 1986 tot provinsiale erfenis verklaar is nie. Parys is een van die dorpe in die land wat baie gewild is onder eiendomsbeleggers sowel as kunstenaars en antieke handelaars wat hier hul tuiste maak. Juis daarom kon die dorp vanjaar sy eerste kunstefees aanbied en was Parys die afgelope twee jaar ook die gasheer vir die FS/Madeira Flower Festival.
Daar is verskeie uitstaande restaurante, koffiewinkels, baie unieke winkeltjies, verskeie buitemuurse aktiwiteite en selfs die grootse binnenshuise arena in die Suidelike Halfrond waar verskeie perdeskoue en beeste veilings gereeld gehou word.
Die unieke topografie van die Vredefort Koepel en Vaalrivier verleen uitstekende geleenthede vir liefhebbers van fauna en flora en is dit ook ’n  kulturele en historiese skatkis.
Die Vredefort Impakkrater word beskou as die wêreld se grootste en oudste meteoriet impakstruktuur en is in Julie 2005 tot wêrelderfenisgebied verklaar.
Slegs in die Parys-omgewing word daar eilande in die rivier gevind en kry jy hier stroomversnellings met name soos “Gatsien” wat boekdele spreek. Leeukop Quarrie is die grootste van sewe sulke quarries en die enigste waar pienk graniet gemyn is.
Parys is gewilde hengelplek en bekend vir sy prag natuurskoon en voëllewe.
Dit is hier waar toeriste met egte plattelandse gasvryheid en hartlikheid ontvang word.
Jy hoef nie ’n  inwoner van die dorp te wees om te kan stem nie, maar onthou elke stem tel. Parys het JOU stem nodig vanaf 27 Mei

 

Related Articles

Back to top button