NewsNews

Moontlike botsing van belange laat regter uitstel

Hofverrigtinge in die verhoor van die ses mans wat aangekla is van die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeda, kon Dinsdagoggend nie hervat word nie ná ’n kwessie oor moontlike botsing van belange onder regter Corné van Zyl se aandag gebring is.

Sy het daarna die verhoor in die Hoë Hof in Parys uitgestel na môre (Woensdagoggend 16 Mei) om nege uur.
Die onverwagse wending in die hofverrigtinge het gekom nadat een van die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen, Maandag sy getuienis gelewer het en daarna deur die staat onder kruisverhoor geneem is.

Regter Van Zyl het ook Maandag die aansoek om ontslag van kapt. Henk Prinsloo op alle aanklagte teen hom geweier.

Regter Van Zyl het Dinsdagoggend voordat sy die verhoor uitgestel het, gesê dat die tipe situasie wat  onder haar aandag gebring is, nie geïgnoreer kan word sonder behoorlike oorweging en oorlegpleging met die regsspan se verteenwoordigende liggame nie.

Die staat het reeds verlede week sy saak afgesluit waarin hy beweer Boeta van der Westhuizen, en sy seun, Loedie, Miela Jansen van Vuuren, Anton Loggenberg en sy seun Cor, en kapt. Henk Prinsloo, sou na bewering die oorledenes op 6 Januarie 2016 sodanig op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik aangerand het, dat hulle kort daarna in twee afsonderlike hospitale aan hul beserings beswyk het.

Die beweerde aanranding van die oorledenes het gevolg ná ’n aanval op Loedie van der Westhuizen (sr) waarvan die twee oorledenes verdink is. Loedie (sr) is vier maande gelede oorlede.

Boeta het Maandag in sy getuienis onder meer gesê dat hy nie geweet het wat om te verwag toe hy die oproep op 6 Januarie 2016 om ongeveer  17:30 van sy pa gekry het om te sê dat hy aangeval is. Sy pa was baie angstig, het hy getuig. Boeta het sy pa met bloed op sy kop en voorarms op die plaas Biesiesbult gekry waar hy alleen gebly het. Sy regterarm was ook vel-af en daar was bloed op sy maag en bors.

Kruisondervraging van Boeta van der Westhuizen is nog nie afgesluit nie.

Die verhoor is op die hofrol geplaas tot Vrydag 18 Mei.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button