NewsNews

Kaptein hoor Maandag oor ontslag-aansoek

Regter Corné van Zyl sal Maandagoggend om 10:00 haar bevel gee rakende die verdediging se aansoek in die Hoë Hof vandag (11 Mei) om ontslag op alle klagte teen kapt. Henk Prinsloo.

Kapt. Prinsloo is saam met Boeta van der Westhuizen en sy seun Loedie, Anton Loggenberg en sy seun, Cor, en Miela Jansen van Vuuren, aangekla vir die moord op Samuel Tjixa en Simon Jubeda.

Die staat opponeer die aansoek om ontslag van Prinsloo.

Die staat voer in sy saak teen die mans aan dat hulle na bewering Tjixa en Jubeda op 6 Januarie 2016 sodanig op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik sou aangerand het, dat hulle kort daarna in twee verskillende hospitale aan hul beserings beswyk het. Die beweerde aanranding van die oorledes het gevolg ná ‘n aanval op Loedie van der Westhuizen Sr. waarvan die twee oorledenes verdink is.

Talle boere het gereageer op Loedie van der Westhuizen se noodroep nadat hy die paniekknoppie gedruk het. Loedie Sr is intussen oorlede.

Regter Van Zyl het aangedui dat sy Maandag haar bevel rondom die ontslag-aansoek sal gee en dat die verdeging gereed moet wees om voort te gaan met hofverrigtinge direk daarna. Die saak is op die hofrol  tot 18 Mei, en weer van 4 tot 8 Junie vanjaar.

In sy aansoek het adv. Koenie Pieterse vir die verdediging gevra op ontslag van Prinsloo op die moordklagte maar ook alle ander klagte wat moontlik uit die saak mag spruit.

Adv. Pieterse het gesê die verdediging is van mening dat die staat nie voldoende bewyse voor die hof kon bring ten opsigte van Prinsloo se aandeel tot die moorde, of aanranding wat tot die dood van die oorledenes gelei het nie, of selfs die gemeenskaplike doel daartoe nie,  en dat dit daarom in die stadium gepas sal wees om te vra vir Prinsloo se ontslag. Pieterse het ook aangevoer dat daar geen intensie van Prinsloo was om enige misdryf te pleeg of onwettig op te tree nie.

Adv. Pieterse het daarop gewys dat dit nie in dispuut gebring kan word dat die skokfunksie van die gekombineerde flits/skoktoestel wat Prinsloo  op die toneel sou gebruik het, nie gewerk het nie, en dat Prinsloo Jubeda net met die toestel in die ribbes gesteek het om reaksie by hom te kry.

Daar is reeds voor die hof getuig dat Jubeda bewusteloos was en volgens staatsgetuies deur Prinsloo op die geslagsdele met ‘n skoktoestel geskok is, hoewel al die getuies wat in die verband getuig het, gesê het dat die oorledene geen reaksie getoon het nie, en hulle ook nie die kenmerkende skokgeluide van die toestel op die toneel gehoor het, soos wat duidelik in die hof hoorbaar was tydens ‘n demonstrasie van die toestel wat ook as bewysstuk in die hof ingehandig is.

Adv. Pieterse het gesê dat dit duidelik is dat Prinsloo eers later op die toneel gekom het ná die aanranding, en toe die oorledenes reeds op Anton Loggenberg se bakkie gelaai was.

Hy het ook benadruk dat die getuies Ockert van Zyl, Tom Direko en Mbuzeni Xhalisa, hulself met verskeie aspekte in hul getuienis weerspreek het. Na aanleiding van Van Zyl se getuienis is gesê dat Prinsloo Jubeda wou help deur vir hom water te gee wat gestaaf word deur Van Zyl wat getuig het dat die water gegee is “seker om hom by te kry” (verwysend na Jubeda).

Die staat op sy beurt het aangevoer dat daar genoeg bewyse teen Prinsloo is oor sy teenwoordigheid op die toneel, en dat die getuienis dat Prinsloo Jubeda met die toestel in die ribbes gesteek het, dui op aanranding. Die staat sê óf die skoktoestel gewerk het aldan nie, is irrelevant.

Hierbenewens is uitgewys dat getuig is dat Boeta van der Westhuizen een van die oorledenes met ‘n waaierband “getik-tik” het in die teenwoordigheid van Prinsloo wat as polisiebeampte op die toneel was.

Daar is ook weer verwys na Van Zyl se kruisondervraging waarin gesê is dat daar nie probeer is om die aanranding te stop nie omdat die polisie reeds daar was. Die vraag is  gevra waarom Prinsloo ook nie verhinder het dat die ernstig beseerde mans met ‘n polisiebakkie vervoer is, terwyl getuig is dat die bakkierit hul toestand kon vererger het.

Die staat het Donderdag sy saak afgesluit.

 

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button