NewsNews

Aansoek om ontslag vir polisie-kaptein

Aansoek om ontslag van kapt. Henk Prinsloo op alle aanklagte teen hom sal môre deur adv. Koenie Pieterse voor regter Corné van Zyl in die Hoë Hof in Parys gebring word in die opspraakwekkende moordverhoor ná die dood van Samuel Tjixa en Simon Jubeda in Januarie 2016.

Ses mans van Parys, onder wie ook Prinsloo is vir die moorde aangekla en beweer die staat dat Tjixa en Jubeda op 6 Januarie 2016 sodanig op die plaas Swartklip aangerand is dat hulle kort daarna aan hul beserings beswyk het. Die ander beskuldigdes is Boeta van der Westhuizen en sy seun, Loedie, Anton Loggenberg en sy seun, Cor, en Miela Jansen van Vuuren.
Die beweerde aanranding van die oorledenes het gevolg ná ’n aanval op Loedie van der Westhuizen Sr waarvan die twee oorledenes verdink is. Talle boere het gereageer op Van der Westhuizen se noodroep nadat hy die paniekknoppie geaktiveer het. Loedie Sr is intussen oorlede.
Die staat het vandag (Donderdag 10 Mei) sy saak afgesluit en sal die verdediging môre (Vrydag 11 Mei) aandui of hulle nog getuies wil roep en wat die verdediging se besluit rondom die ander beskuldigdes is.
Tydens Donderdagoggend se hofverrigtinge is kruisondervraging van Tom Direko afgesluit wat vir die staat getuig het. Direko werk vir Kobus Dannhauser, nog ’n boer van die Weiveld-dsitrik.
Daar was tydens kruisondervraging veral baie vrae deur die verdediging gevra oor die datums van die verklarings wat deur Direko afgelê is.
Hoewel daar vroeër getuig is dat hy en nog ’n staatsgetuie Mbuzeni Xhalisa, ook ’n werknemer van Dannhauser, op 25 Januarie 2016 saam na die Parys-polisiestasie is om afsonderlik hul verklarings af te lê, kon dié verklaring van Direko nie deur die staat aan die verdediging voorsien word nie.
’n Identifikasie-parade waar kapt. Prinsloo uitgewys is, is op 2 Februarie 2016 in Sasolburg gehou. Slegs verklarings deur Direko wat op 6 en 12 Februarie 2016 onderskeidelik gemaak is, is by die hof ingedien. Direko het in kruisondervraging gesê hy het geen flitse op die toneel gesien nie, en het volgehou dat die gekombineerde flits/skoktoestel wat by die hof ingehandig is as bewysstuk, nie die skoktoestel is wat hy beweer hy Prinsloo op die toneel sou sien gebruik het nie.
Voorts is vrae aan Direko gevra oor sy vrou se vroeëre getuienis in die hof dat sy hom van ’n vuurwapen vertel het wat een van die 2 verdagtes glo sou gehad het. Direko het geantwoord dat hy niks daarvan gesê het nie, omdat hy dit nie self gesien het nie.
Soos Xhalisa het hy ook getuig dat hy nie die skoktoestel op die toneel gehoor het nie. Die gekombineerde flits/skoktoestel wat by die hof ingehandig is, het egter baie duidelik hoorbare elektriese skokklanke gemaak as dié funksie aangeskakel is.
Direko is gevra waarom hy dink ’n identifikasie-parade nodig sou wees as hy Prinsloo soos hy getuig het, geken het, en hy die polisie selfs na hom sou kon neem indien nodig.
Adv. Pieterse het dit aan Direko gestel dat Prinsloo indien nodig sal kom getuig dat hy die flitsfunksie van die toestel gebruik het, maar dat dié toestel se batterye té pap was om die skokfunksie te laat werk. Die toestel is Prinsloo se private eiendom.
Xhalisa het Dinsdag getuig dat Prinsloo ’n flits in die een hand en die skoktoestel in die ander hand sou gehad het en dat hy met die flits op albei mans gelig het. Hy het voorts getuig dat Prinsloo glo toe een van die mans sou geskok het wat agterop Loggenberg se bakkie was. Xhalisa het getuig dat die man nie gereageer het op die toestel nie, en dat hy swaar asemgehaal het.
Beide Direko en Xhalisa het nog nie voor die voorval só ’n skoktoestel sien werk nie, is getuig.
Toe Xhalisa uitgevra is oor die sigbaarheid op die toneel het hy gesê dat dit skemer was en nodig om ’n flits te gebruik, terwyl Direko in kruisondervraging gesê het die sigbaarheid was goed.

Regter Van Zyl sal môre oggend (Vrydag 11 Mei) die staat en die verdediging se argumente op die aansoek om ontslag  ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet aanhoor, en na alle waarskynlikheid Maandag haar bevinding hierop gee.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button