NewsNews

Skoktoestel kon nie werk nie oor pap batterye

Die skokfunksie van die gekombineerde flits/skoktoestel wat kapt Henk Prinsloo op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik by hom gehad het, het nie gewerk nie omdat die toestel se herlaaibare batterye té pap was.

Die stelling is Woensdagoggend deur die verdediging se adv. Koenie Pieterse aan Mbuzeni Xhalisa,’n  werknemer van Kobus Dannhauser, gemaak tydens kruisondervraging.
Xhalisa het Dinsdag getuig in die verhoor van Prinsloo en nog 5 ander mans van Parys wat tereg staan op die moord van Simon Jubeda en Samuel Tjixa. Die ander beskuldigdes is Boeta van der Westhuizen en sy seun Loedie, Anton Loggenberg en sy seun Cor en Miela Jansen van Vuuren
Die staat voer aan dat Tjixa en Jubeda na bewering so erg deur die mans aangerand is na ’n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen Sr waarvan hulle verdink is, dat hulle kort daarna in twee verskillende hospitale oorlede is.
Talle boere het op Loedie se noodroep gereageer toe hy die paniekknoppie gedruk het.
Die toestel wat die private eiendom van Prinsloo is, is Woensdag as bewysstuk in die hof ingehandig. Die toestel is ook in die hof gedemonstreer deur Prinsloo se prokureur, Hannes Grimbeek. Toe die skokfunksie van die toestel in die hof aangeskakel is, was dit baie duidelik hoorbaar.
Xhalisa het Dinsdag in sy getuienis gesê Prinsloo het glo ’n flits in die een hand en ’n  skoktoestel in die ander hand gehad. Volgens sy getuienis sou Prinsloo die flitslig op die mans geskyn het, waarna hy een van die mans wat toe agterop Anton Loggenberg se bakkie was, glo op sy private dele geskok het. Hy het verder getuig dat die man nie gereageer het nie, en swaar asemgehaal het. Xhalisa het op vrae van adv. Pieterse gesê dat hy nie die toestel gehoor het nie.
Regter Corné van Zyl het hierop gewys dat Xhalisa ook getuig het hy nie seker was of die toestel gewerk het nie waarop Xhalisa weer geantwoord het dat ’n persoon moet reageer as die skoktoestel gebruik word, maar dat die man nie gereageer het nie.
Xhalisa het ook vir die hof  ’n skets gemaak van die toestel wat hy sê hy sou gesien het en wat hy beweer nie dieselfde was as dié toestel wat by die hof ingehandig is nie. Hy het ook erken dat hy nog nooit voorheen só ’n  skoktoestel in werking gesien het voor die voorval nie.
Toe hy uitgevra is oor die sigbaarheid op die toneel, het Xhalisa gesê dit was al skemer en nodig om ’n  flits te gebruik. Hy sê hy het ook nie gesien dat Prinsloo later nog ’n flits gaan haal het omdat syne nie wou werk nie.
Xhalisa is op 25 Januarie 2016 na die Parys-polisiestasie waar beide hy en Tom Direko, nog  ’n  werknemer van Dannhauser hul verklarings afgelê het. Direko het op 12 Februarie ’n  tweede verklaring afgelê.
Adv. Pieterse het dit aan Xhalisa gestel dat hy sy getuienies verander om te pas by die verklaring van Tom Direko. Die verhoor duur voort.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button