NewsNews

Sassa-begunstigdes: Frustrasie met poskantoor slakkepas

Rekenaarprobleme, ’n tekort aan personeel, mense wat in lang rye staan, en nuwe Sassa kaarte wat nog nie in voorraad is nie.

Dit is van die probleme wat Sassa beguns-tigdes nou reeds ervaar het met die diensooreenkoms wat in Desember 2017 gesluit is tussen Sassa (Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid) en Sapo (Suid-Afrikaanse Poskantoor).
Die ooreenkoms sal uiteindelik beteken dat die meeste van die land se maatskaplike toelae direk elektronies uitbetaal sal word aan die begunstigdes sonder om soos voorheen van Cash Paymaster Services (CPS) gebruik te maak.
Ingevolgde die ooreenkoms sou die Poskantoor reeds vanaf 3 April begin het om Postbank-rekeninge vir begunstigdes oop te maak, waarmee daar dan drie kontantonttrekkings gratis gedoen kan word, een gratis balansnavraag en een gratis mini-staat per maand, asook ’n gratis drie maande bankstaat op versoek.
Sassa het ook met kommersiële banke onderhandel oor laekoste rekeninge vir die begunstigdes met maatskaplike toelae, sodat hulle geld direk in hul persoonlike bankrekenings inbetaal kan word.
Maar nee sê die begunstigdes met wie Gazette gepraat het – dis ’n Babelse verwarring. Eindelose gesukkel en toustaan vir tot 90 minute en langer in die poskantoor om gehelp te word.
In reaksie op begunstigdes se klagtes is gesê dat die Parys-poskantoor ’n  rekenaarprobleem ondervind het, maar dat aandag aan die probleem gegee word. Hoewel die nuwe Sassa-kaarte nog nie by die Parys-poskantoor beskikbaar is nie, kan huidige sowel as nuwe Sassa begunstigdes wel Postbank-rekeninge hier oopmaak, maar sal hulle in plaas van die nuwe Sassa-kaart, ‘n Postbank-kaart ontvang, totdat die nuwe kaarte beskikbaar is.
Dit is beklemtoon dat dit gratis is om ‘n Postbank-rekening oop te maak, en dat mense net die nodige vorms sal moet invul en ‘n geldige ID-dokument moet hê.
Die inligting op die vorms word dan verwerk en sodra die rekening geopen is, moet die begunstigde die inligting weer aan Sassa deurgee.
Daar is ook toegegee dat die Parys-poskantoor ‘n geweldige personeeltekort het wat die lang toue tot gevolg het, en dit is juis dié personeeltekorte wat veroorsaak dat begunstigdes oënskynlik nie behoorlik ingelig is oor wat hul opsies is nie. Baie het nie geweet dat hul Postbank-kaarte kan kry nie.
Marama Mofokeng, areabestuurder vir die Poskantoor, het by navraag van Gazette gesê dat die huidige Sassa kaarte tans nog gebruik kan word, selfs al het die kaart verval. Daarna sal die toelae direk in die begunstigdes se Postbank-rekeninge, of rekeninge wat deur die begunstigdes by kommersiële banke oopgemaak is vir dié doel, inbetaal word.
Sy het mense aangeraai om voor einde Augustus hul nuwe Sassa-kaarte te kry. Sy het toegegee dat daar landwyd nog heelwat probleme is met die toepassing van die diensooreenkoms tussen Sassa en Sapo, maar dat nuwe kaartvoorrade na verwagting glo hierdie week beskikbaar sal wees.
Sy het gesê dat sy ook eers einde verlede week van die personeeltekort in Parys te hore gekom het, maar dat dit aangespreek word.
Sy het mense wat probleme ondervind met die oorskakeling, aangemoedig om haar kantoor te skakel by (018) 2944 822. Sowat 17 miljoen mense in Suid-Afrika ontvang maatskaplike toelaes van die regering.
*Die Poskantoor sal nie in dié stadium kontantbetalings wat by ‘n CPS kontantpunt of kleinhandelaar gemaak word, behartig nie. Hiervoor sou Sassa ‘n nuwe diensverskaffer aanstel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button