NewsNews

Só sal Vicky Daniel onthou word

Hy was ’n regte grapmaker, maar ook die nederigste mens wat jy kon kry - ’n harde werker wat alles wat hy aangepak het met sukses deurgevoer het.

Iemand met baie drome wat hy in sy 75 jaar met genade van Bo kon verwesenlik.
Hy was lief vir sy medemens, enigeen wie sou pad sou kruis, en sou selde anderpad kyk as daar leed was.
Hy was lief vir poetse bak, maar bo alles was sy grootste passies sy gesin, sy gholf en sy beeste.
Op 10 April was Vicky se jarelange stryd wat hom van 2012 vasgeskluister het aan ’n  siekbed ná ’n  beroerte, finaal verby. ’n Stryd wat hy met sy gesondheid vir langer as 5 jaar moedig gestry het. In al die jare het sy vrou, Anneline, hom met soveel liefde en teerheid versorg.
Op Donderdag 12 April is daar vir oulaas gegroet met die gedenkdiens wat vir Vicky vanuit die NG Suid-gemeente gehou is.
Vicky was ’n  geliefde en gerespekteerde sakeman maar ook sportman wat nooit die kwaad in enigeen wou sien nie. Hy sou help waar hy kon.
Sy voetspore het hy oral gelaat – van Parys Finance wat hy begin het tot die Parys-gholfklub waarvan hy een van die stigterslede was. Maak geen fout nie – sy gholfreëls het hy op die palm van sy hand geken en ’n gekullery op die gholfbaan nie geduld nie. Hyself was ’n  ywerige gholfspeler.
Vicky het in 1961 in Parys gematrikuleer en toe ’n  B.Com kwalifikasie verwerf. Hier in Parys het hy sy hart verloor op Anneline waar hy haar sien stap het op pad na die bank, verby sy ma se  winkel, Maré Modes, wat toe nog oorkant Riviera Apteek was.
Dié twee het mekaar skaars 2 maande geken, toe is hulle getroud in 1966 en was hulle in die 52 jaar van getroude lewe mekaar se sielsgenote.
Vir hom was sy sy “sweetheart” vir wie hy alles vir haar en die kinders sou doen.
Later jare het hy die besigheid oorgegee aan sy seun, Gary, en het hy op Kliprug gaan boer met beeste. Van soggens tot saans het hy hom uitgeleef in die boerdery.
Ná ’n  ligte beroerte in 2005, het hy gereeld as daar oor sy gesondheid gepraat is, gesê dat hy ’n vol lewe gehad het. In 2012 het ’n ernstige beroerte hom verlam en stom gelaat. Tog het hy met waardigheid sy stryd gestry.
’n  Man met karakter wat onthou-spore agterlaat, en ’n groot leemte in die harte van sy vriende, sy familie en hulle wat hom lief gehad het.
Vicky word oorleef deur Anneline, sy vier kinders, 3 kleindogters, broers en susters.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button