News

Regering maak na volgehoue druk weer statistiek oor plaasaanvalle bekend

Die VF Plus verwelkom die besluit van die minister van polisie, Bheki Cele, en die polisiekommissaris, genl. Khehla Sithole, om na elf jaar se swye oor plaasaanvalle en -moorde, weer statistiek hieroor bekend te maak.

 

 

Die laaste keer dat statistiek hieroor uitgereik is, was in 2007. Die VF Plus het nogtans deurgaans in parlementêre vrae statistiek oor die aangeleentheid aangevra, en dit is nou eindelik weer beantwoord.

 

Die vraag was in wese oor die aantal aanvalle en moorde in elke provinsie sedert 2012. Uit die antwoord blyk dit dat aanvalle in die laaste finansiële jaar (2017/18) toegeneem het (561 aanvalle) nadat daar in die vorige drie jare ʼn afname was.

 

Uit die syfers blyk dit dat daar in die ses boekjare sedert 2012 altesame 3 059 aanvalle was (gemiddeld 509,8 per jaar) waarin 338 mense dood is (gemiddeld 56,3 per jaar).

 

Wat die provinsies betref was die meeste aanvalle in die tydperk in Noordwes met 722 aanvalle en dan Gauteng met 644 aanvalle. Die meeste moorde in hierdie tydperk was egter in Gauteng met 69 moorde en Noordwes en KwaZulu-Natal elk met 61 moorde.

 

Indien die syfers vergelyk word met ander beskikbare bronne, blyk dit redelik betroubaar. Dit is jammer dat daar onder die administrasie van oud-president Jacob Zuma ʼn sluier hieroor getrek is.

 

Sonder die nodige statistiek oor misdaad tas ʼn mens in die donker rond en kan daar beswaarlik sinvolle optrede en voorkomende maatreëls getref word.

 

Die VF Plus sal intussen voortgaan met sy deurlopende aksieplan om die internasionale gemeenskap oor vergrype en veral die wreedheid van die moorde in Suid-Afrika in te lig deur aktief te skakel met onder meer die Europese parlement en regerings, die Verenigde Nasies (VN) en deur die VF Plus se lidmaatskap van UNPO.

 

In dié verband sal statistiek wat die regering self bekend maak oor ʼn aangeleentheid soos plaasaanvalle en -moorde, veel meer gewig dra as dié van ander instansies.

 

Related Articles

Back to top button