NewsNews

Potch in geld-gat

Swak boekhouding, gebrek aan gevolge vir swak prestasie en oortredings, versuim om ondersoeke te loods, geen beplanning of begroting vir sekere instandhouding en kontrakte wat teenstrydig met prosedure toegeken is.

Swak boekhouding, gebrek aan gevolge vir swak prestasie en oortredings, versuim om ondersoeke te loods, geen beplanning of begroting vir sekere instandhouding en kontrakte wat teenstrydig met prosedure toegeken is.
Dit is van die kwessies wat in die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag oor die munisipaliteit vervat is. Die OG kon nie ’n mening gee oor die finansiële stand nie, omdat alle dokumente beskikbaar gestel is nie.
Dit is die swakste wat ’n munisipaliteit tydens ’n oudit kan doen. Die woorde “I was unable to” kom 53 keer in die opsommende verslag voor.
Volgens die verslag is kontrakte toegeken aan kontrakteurs sonder verklarings van die kontrakteurs wat sê dat hulle in diens van die staat is of dat hulle ’n verbintenis het met iemand wat vir die staat werk. Kontrakteurs wie se belasting nie in orde was nie, is ook aangestel. Kontrakte is verleng of aangepas sonder dat die gedelegeerde beampte dit goedgekeur het.
Klagtes oor beweerde finansiële wanbestuur teen die destydse munisipale bestuurder is nooit ondersoek nie, hoewel die wet op munisipale finansiële bestuur sulke ondersoeke vereis.
Volgens die verslag het die munisipale bestuurder in 2016 onderneem om ’n plan van stapel te stuur om kwessies aan te spreek. Die OG het bevind dat dié plan veral nie vorige jare se onreëlmatige uitgawes aangespreek het nie.
Volgens ’n verslag aan die nasionale tesourie, wat die Herald onder oë gehad het, het die munisipaliteit se ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose en verkwistende uitgawes vir die 2016/2017 finansiële jaar op ongeveer R300 miljoen gestaan.
Die OG het bevind dat die stelsels wat in plek is om dié soort uitgawes te bekamp, onvoldoende is.
Oor die finansiële lewensvatbaarheid van die munisipaliteit het die OG gesê dat ingryping nodig is.
Die persentasie van kontant beskikbaar en wat aan krediteure geskuld word, is 97%. Volgens die verslag sal die munisipaliteit se vermoë om krediteure te betaal versleg hoe hoër hierdie persentasie is.
Die verslag aan die nasionale tesourie wys dat teen einde Desember 2017, die munisipaliteit sowat R28 miljoen aan krediteure geskuld het.
Daar is geen plan of beleid met betrekking tot die instandhouding van water- en pad-infrastruktuur nie. Daar word ook nie begroot vir die onderhoud van dié infrastruktuur nie.
Volgens Dewald van Breda, verteenwoordiger van die Potch-Tlokwe Sakekamer, neem hulle met kommer kennis van dié stand van sake. “Ons wil help om oplossings te vind,” sê hy.
Volgens hom is die beeld van die stad op die spel, veral as onderhoud begrotings gesny word.
“Niemand wil besigheid doen in ’n stad vol slaggate nie. Hoe beter dit met besighede gaan, hoe beter sal dit met die stad gaan.
Daar is baie kundigheid in die stad wat gebruik kan word om planne te beraam,” het hy gesê.
Volgens die verslag het die burgemeester slegs een keer met die oudit-span vergader en het die span menigte vrae aan hom gehad.
“Ons is in ’n vinnige afwaartse spiraal met min hoop op ’n werkbare uitkoms,” sê Hans-Jurie Moolman, koukusvoorsitter van die DA.
Teen druktyd het die munisipaliteit nie gereageer op navrae oor die verslag nie. Victor Boqo, woordvoerder van die burgemeester, het gesê dat die burgemeester met tye dringende sake gehad het.
“Hy streef altyd na goeie oudit resultate,” het Boqo gesê.

 

Related Articles

Back to top button