NewsNews

Parys is VS finalis vir dorp van die jaar – gee jou stem

Daar is min dorpe wat so onder jou vel kom lê soos Parys - die Vrystaatse afdruk van sy Franse naamgenoot wat geensins afsteek as dit kom by die romantiek en unieke karakter van die dorp nie.

Sommer so met die inry in die dorp as jy op ’n Saterdag die talle motorfietse in die hoofstraat sien – of die vele voete met rugsak en tekkies wat die strate invaar om egte plattelandse hartlikheid te ervaar, verstaan jy hoekom stedelinge hier hart verloor.
Dit is die dorp se kunskarakter, sy oudhede skatte, winkeltjies soos krale ingeryg langs die hoofstraat, en prag natuurskoon langs die Vaalrivieroewer, waarmee die dorp sy besoekers met ope arms omhels.
Dis die glimlagte van sy mense, al geselsend op sypaadjies en die rustigheid van ’n volmaak geskepte natuur wat jou die Vredefort Koepel se natuurwonders te voet wil laat verken. Jou huisbier wil laat proe by ’n tuisbrouery, jou die Vaal se witwater wil laat roei, en op ’n  kabellyn oor Koepe-natuurskoon wil laat gly.
Dis hier waar jy wil lyn natmaak, en gaan lafenis soek by een van die dorp se unieke restaurante.
Ja, elke dorp het sy skaafplekke – té min water, té veel gate, ontoereikende munisipale dienste en wat meer – maar by dit als het Parys karakter en die mooi wat mense raaksien wanneer hulle naweek vir naweek na die Vrystaatse “Paris”stroom.
Dis hierdie mooi wat raakgesien is toe daar gestem is vir Parys as een van die finaliste in vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie, aangebied in samewerking met Afrikaans.com, KIA en National Accommodation Association of South Africa (NAA SA).
Uit elke streek dring die drie dorpe met die meeste benoemings eers deur na die semi-finale rondte waar die publiek vir ’n week lank ’n geleentheid kry om vir hul gunsteling dorp te stem. En  Parys het dit gemaak tot by die finaal as Vrystaatse finalis!
Wanneer al nege finalis dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek vanaf 27 Mei om 18:00 tot 1 Junie 2018 om 12:00 vir die wendorp kan stem.
Die wendorp word op 17 Junie op Kwêla aangekondig. Die dorp wen ’n ongelooflike R1-miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45-sekonde advertensie oor die dorp vervaardig wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot KIA-dorp-van-die-jaar-makietie in die wendorp gehou word.
Wees trots Parys en stem vir jou dorp deur die woord Parys te sms na 33157 tussen 27 Mei en 1 Junie om 12:00. Sms’e kos R1,50 en slegs 30 sms’e  per nommer word toegelaat. Die Kwêla-span sal ook vandeesweek in die dorp wees om met Parysenaars te gesels en beeldmateriaal van die dorp te verfilm. Kom ons verwelkom die span en help ons dorp skoonhou, want dit is JOU dorp.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button