NewsNews

Nuwe advokaat vir verdediging se regsspan

Die saak teen die ses mans van Parys wat tereg staan op twee aanklagte van moord na die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa op 6 Januarie 2016, sal weer op 2 Mei in die hooggeregshof in Parys voor regter Corné van Zyl hervat word.

Van Zyl het met die laaste hofverskyning van die ses in November 2017 gesê dat alles moontlik gedoen word om die saak so spoedig moontlik af te handel.
Die saak is toe op die hofrol geplaas van 2 tot 18 Mei en 4 tot 8 Junie vanjaar.
Sedert die hof in November verdaag het, is die verdediging se adv. Nico Dreyer, wat  saam met prokureurs Kobus Burger, Hannes Grimbeek en Gideon Mandelstam verskyn het namens Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie, en skoonseun Miela Jansen van Vuuren, Anton Loggenberg en sy seun Cor, en kapt. Henk Prinsloo, vroeër vanjaar in die ouderdom van 54 jaar oorlede.
Indringende besluite moes hierna geneem word en is adv. Koenie Pieterse van Bloemfontein tot die verdediging se regsspan gevoeg. Die verhoor die afgelope twee jaar het reeds verskeie uitdagings en wendings gehad.
Die staat voer in sy saak teen die ses beskuldigdes aan dat hulle glo die oorledenes op 6 Januarie 2016 sodanig sou aangerand het op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, dat hulle kort na die voorval aan hul beserings onderskeidelik in die Parys- en Pelenomi-hospitale beswyk het.
Die oorledenes is daarvan verdink dat hulle betrokke was by ’n plaasaanval vroeër die betrokke dag by Boeta se pa, Loedie van der Westhuizen (sr) wat intussen ook oorlede is.

Related Articles

Back to top button