NewsNews

Eilandsprokie: Hy’t gevra, en sy sê ja

Dit moes ’n eiland-sprokie wees waar hy sy Parys-prinses van die afgelope agt maande se voete onder haar sou uitslaan. En dít het Afrikaanse sanger en televisie-aanbieder van KykNetNou se Sing & Harmonie en Uitblinkers, Anthonie Bougas, inderdaad reggekry.

Vir ’n maand lank het Anthonie beplan hoe hy die groot vraag vir Launette van Niekerk sou vra. Salig onbewus van dié planne, en Anthonie wat vooraf al ouers gevra het, is sy saam na die Phi Phi-eilande in Thailand, kwansuis om ’n  advertensie vir Anthonie se niggie, Rouxmia se aanlyn juweliersmaatskappy, te gaan verfilm.
Alles was reg vir die 16 uur lange vlug en drie uur lange bootreis na die eilande waar hy die ja-woord sou vra tydens die verfilming van die “advertensie”, terwyl Anthonie se vriend, Jacques Groenewald, die oomblik op kamera sou vasvang.    Maar as ’n man sulke groot planne het, knaag die senuwees maar, vertel Anthonie.
Launette wat steeds van geen sout of water geweet het nie, het ewe gedweë tydens die proeflopies vir die verfilming van die video telkens aan die einde van die video die groot hart aan die hangertjie wat hul moes “adverteer” oopgemaak en die briefie daarin gelees soos sy moes doen. Die derde keer – was die briefie die groot vraag en Launette se antwoord onomwonde ja.
Ná nog ’n week se vakansie in Thailand is die paartjie terug in Suid-Afrika waar die amptelike verlowingspartytjie die afgelope naweek saam met albei families op die Vaalrivier gehou is. Hoewel daar nog nie ’n troudatum is nie, straal Anthonie en Launette as hulle vertel van die sprokie van ’n prins wat sy prinses nou syne kan noem.
Gazette het in September 2017 berig toe Launette ’n vierde plek in die Beach Bikini-afdeling by die SA-kampioenskappe behaal het. Dit nadat sy by die IFBB Body Building provinsiale uitdunne gekies is vir die Sedibeng-span, en toe haar span by die SA’s verteenwoordig het. Sy is ook ‘n dosent by Gaudium Artes in Parys, en haar handewerk is gesien in die musiekproduksie, Liefde is, wat by Hoërskool Parys opgevoer is. Dan is sy ook nog televisie-aanbieder vir Uitblinkers.

Related Articles

Back to top button