NewsNews

Messiasprojek skop af

Op 19 Mei word die gewilde oratorium van Händel, die Messias, in die NG Kerk in Vredefort uitgevoer.

Die produksie word gesamentlik deur die Koepel Kunstesentrum en die Johannesburgse privaatskool, St. John’s College, georganiseer, en deur die kamerkoor en orkes Ensemble Fons Partita, bestaande uit 16 sangers en 16 instrumentaliste,uitgevoer.
Die konsertmeester is die bekende barokvioliste Antoinette Lohmann van Amsterdam.
Die afgelope naweek het die kooroefeninge vir dié uitvoering begin. In die loop van die volgende drie weke sal die werk deur die koor en orkes ingestudeer word. Die koorsangers is van Potchefstroom, Johannesburg en Pretoria.
Die orkes bestaan uit Suid-Afrikaanse deskundiges vir historiese uitvoeringsprakyk.
So sterk is die Suid-Afrikaanse Vroeë Musiekbeweging reeds dat slegs twee oorsese musici nodig is – Antoinette Lohmann en Anke Nevermann, barokhoboïste uit Freiburg in Duitsland.
Kaartjieverkope vir die konsert vorder goed en die doel van 200 verkoopte sitplekke teen die einde van April is in sig. Kaartjies kan bespreek word by Gerhard Benade, verkieslik per e-pos, by gerhard@deelfontein.co.za, of andersins per SMS aan 083 280 9784. Persone wat wil help om kaartjies te verkoop, kwalifiseer met elke 10 verkoopte kaartjies vir een gratis kaartjie. Kontak Gerhard vir besonderhede. Die Messias word op 19 Mei om 18:30 deur die Ensemble Fons Partita in die NG Kerk Vredefort uitgevoer. Toegang is R100 per persoon. Meer inligting is op www.deelfontein.co.za.

Related Articles

Back to top button