NewsNews

“Horlosiekoper” en sy makkers dra juwelierswinkel leeg

’n Onbekende hoeveelheid juweliersware en selfone is vanoggend net na 09:00 by American Swiss in Parys gesteel in die soveelste besigheidsroof by dié juwelierswinkel. Niemand is in die rooftog beseer nie, en dit is nog nie bekend wat die waarde van die gesteelde goedere is nie.

Een van die rowers het net nadat die winkel sy deure oopgemaak het vir besigheid, ingestap en navraag gedoen oor ’n  horlosie.

Die winkelassistent is na die toonbank om meer inligting oor die horlosie te kry waaroor hy vrae gehad het. Met dié het die man sy hemp opgelig en haar die versteekte vuurwapen wat hy aan hom gedra het, gewys.
Die winkelassistent, winkelbestuurder en nog ’n  kliënt wat in die winkel was, is gedwing om na agter in die winkel te beweeg. Intussen het nog ’n  rower ingekom. Die eerste rower het die winkelassistent gedwing om al die juweliersware uit die kluis te haal en het al die selfone gevat, terwyl die tweede man en ’n  derde wat intussen ook ingekom het, die bestuurder aaangesê het om die vertoonkaste vir hulle leeg te maak.
Al die juweliersware sowel as die selfone is in handsakke gepak wat ook in die winkel gevat is.

Die drie mans is saam met hul makker weg in ’n  BMW wat buite vir hulle gewag het.
Al vier verdagtes was teen Gazette se druktyd nog soek.

Die polisie waarsku ook inwoners dat motordiefstal steeds ’n  groot kommer in die dorp is met vier voertuie wat tot dusver in April gesteel is, meestal waar dit geparkeer gestaan het, selfs by winkelsentrum parkeerareas.
Besighede in Breëstraat loop ook steeds erg deur onder inbrake met hoofsaaklik rekenaars wat gesteel word.

Related Articles

Back to top button