NewsNews

Slangbos-indringers só beheer

Hy’s ’n indringer soos min en tans een van die belangrikste probleemplante in Suid-Afrika. Maar waarom slangbos so ’n geweldige ontploffing in veral die afgelope vyf jaar gehad het, ook in die Vredefort en Viljoenskroon-omgewings, bly ’n raaisel.

 
As iets daadwerklik nie gedoen word om dit te bekamp nie, hou dit ’n  groot bedreiging vir weiding in, en kan dit die produksiepotensiaal van weiveld met tot 75% verlaag. Met oorbeweiding is die verskyning van slangbos meer opsigtelik, maar in werklikheid dra oorbeweiding net by tot die indringing omdat die grasbedekking verminder en slangbos wat nie benut word nie, dan die kans kry om ongehinderd te groei. Ou lande is veral vatbaar as gevolg van die gebrek aan kompetisie van grasspesies.
Miljoene ligte saad word ver deur die wind gewaai en voor jy jou kan kry, het dié plant buite beheer versprei, ongeag of jou veld in ’n  goeie of swak toestand is. Verbasend is hoe die besondere klein slangbossade so suksesvol in ’n digte grasbekking ontkiem en vestig.
Slangbos kom hoofsaaklik op sanderige grond voor ,maar kan selfs indring in grond met ‘n hoër klei samesteling. Die sade kan vir maande aan die bosse voorkom voor dit afgegooi word en die grond bereik.
Indien ’n slangbosplant wat saad geproduseer het en dit op een of ander manier (meganies of deur brand) afgegooi het, uit die veld verwyder sou word, hou dit die moontlikheid van ’n ontploffing in saadontkieming in. Juis daarom is opvolgaksies baie nodig as slangbosbeheer toegepas word. As dit nie gedoen word nie, kan die probleem selfs vererger.
Slangbosse kompeteer sterk vir plantvoedingstowwe en grondwater en het allelopatiese eienskappe wat giftige stowwe afskei om die ontwikkeling en ontkieming van plante in hul onmiddellike omgewing te inhibeer.
So kan grasse heeltemal verdring word deur slangbosse. Boonop bevat slangbos vlugtige olies wat hoogs vlambaar is en saam met hoë brandbare materiaal ‘n ernstige gevaar inhou by veldbrande.
Om die slangbos-probleem aan te spreek, sal Land Care Vaal Eden & Vredefort Dome in September (wanneer die plant nie vars saad het nie) ’n  program aanpak waarmee op 886 ha gewerk sal word om 140 ha se slangbos op die plase Tarentaalkop, Zuid Witbank en Spitzkop, Vredefort, met die hand uit te haal.
‘n Soortgelyk projek sal ook in September op die plase Geluk, Bankfontein, Granietbank, Rooipoort, Vlakfontein en Wolwehoek gedoen word. Albei projekte duur van September vanjaar tot Maart 2019.
‘n Totaal van R415 000 is deur Land Care fondse vir die projek vir die 2018/19 finansiële jaar begroot, en sal werksgeleenthede aan 32 mense bied.
Die spanne sal toegerus word met beskermende klere, pikke, handskoene en hoede. Proewe sal ook gedoen word om die beste metode van die uithaal van die indringerplant te bepaal. Voor die aanvang van die projekte sal bewusmakingsveldtogte en ‘n demonstrasie- dag gehou word sodat die gemeenskap ingelig sal wees oor die doel van die projekte.
Sodra die beheerprojekte afgehandel is, sal opvolgaksies deur boere op wie se grond beheer gedoen is, van kardinale belang wees vir die langtermyn sukses van die beheeraksies. Plaaskaarte sal voorsien moet word, evaluasie gedoen moet word en veldbestuursplanne in plek gestel moet word. Munisipaliteite sal ook meer betrokke moet raak en seker maak huurooreenkomste is in plek sodat daar beheer is oor weiding.
Tesame met die Land Care projekte sal die sogenaamde Expanded Public Works Programme ook vir 2018 twee spanne met 32 mense beskikbaar stel wat sal help met die uitroei van slangbos in die Vredefort Koepel-gebied.
Die onderskeie Land Care komitees vir Vaal Eden en Vredefort sal grotendeels moet verseker dat grondeienaars by die projekte betrek word en moet help met die identifisering en  koördinering vir beheer by probleemgebiede. So ook om die opgeleide spanne weer beskikbaar te stel vir boere sodat hulle opvolgaksies kan doen. Soortgelyke projekte word reeds met groot sukses in Steynsrus deur Land Care ge-koördineer.
Land Care Vaal Eden sal die hele Parys-distrik bedien. Grondeienaars word gevra om betrokke te raak by dié komitee sowel as die Vredefort-komitee sodat grond vir beheeraksies geïdentifiseer kan word. Die Vaal Eden-komitee bestaan uit Renee Hartslief, Arnold de Beer en Devin en Reece Dedwith. Vir enige navrae kan die komitee geskakel word by 071 448 4332, of mense kan ook department landbou se kantoor in Parys by Loopstraat 71A besoek of hulle by (056) 817 1094/5 kontak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button