NewsNews

Ma op moedverloor se vlakte oor siek seun

VANDERBIJLPARK. – Wat veronderstel was om op Kersdag ‘n heerlike familie samesyn te wees, het in ‘n nagmerrie verander toe Pierre Pretorius (43) ‘n beroerte gekry het en sedertdien van een hospitaal na die ander oorgeplaas word, maar steeds nie gesond word nie.

Volgens Pierre se ma, mev. C. Fitzpatrick, het haar seun in Julie 2018 probleme met sy niere en lewer begin ondervind en behandeling daarvoor ontvang. Sedert daardie tyd gaan dit nog net slegter.Op Kersdag het hy ‘n beroerte gehad en is hy na die Metsimaholo-hospitaal in Sasolburg geneem. “Toe ek daar kom, het hy nog geen behandeling ontvang nie. Dit was seker drie ure na die voorval. Ek kon nie net sit en toekyk hoe my seun nie gehelp word nie. Ek het my pensioengeld gebruik en hom na Mediclinic-Emfuleni geneem,” sê mev. Fitzpatrick. Ongelukkig was haar fondse gou uitgeput en moes hulle hom na die Sebokeng-hospitaal oorplaas. Hy was net een aand daar, voor sy ma besluit het om hom eerder huis toe te neem en self te probeer versorg. “Ek het hom in die hospitaal gaan besoek en was geskok toe ek sien hulle het sy voet aan die tralies van die bed vasgemaak. Hulle het gesê hy was rusteloos. Eintlik wou hy net dringend badkamer toe gaan en kon dit nie aan hulle sê nie. Hulle het hom gelos om in sy eie ontlasting te lê, wat ek moes skoonmaak.”Nadat hy ‘n rukkie by die huis was, moes hy maar weer terug hospitaal toe, nadat dokters opgemerk het hy het bloedklonte en sy hartkleppe funksioneer nie meer na wense nie.“Ons het probeer om hom by ‘n staatshospitaal in Bloemfontein te plaas, maar ons kon nie. Hy was daarna twee weke in die Diamond-hospitaal in Jagersfontein, boonop nog met breinvliesontsteking ook,” vertel mev. Fitzpatrick. Sowat ‘n maand gelede, op 9 Maart, is hy na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas. “Hy kry tans behandeling, maar daar is ‘n lang pad wat voorlê. Ons het die kamer waar hy lê en badkamer self skoongemaak en vir hom skoon beddegoed gevat. Ons het die een dag ontsmettingsmiddels saamgeneem omdat hy vir agt dae nie gebad is nie.“Die dreine was geblok en dit was regtig baie vuil. Nadat die vensters oopgemaak is, het dit aansienlik beter geruik. Al wat ons nou kan doen is om aan te hou bid,” sê mev. Fitzpatrick, wat self nie gesond is nie en elke dag die pad hospitaal toe aandurf om by haar seun te kuier. Voordat Pierre siek geword het, het hy by Delta Crane gewerk. Hy het twee dogters waarvoor hy sorg, maar in dié stadium weet niemand hoe lank hy nog in die hospitaal gaan wees nie. Hy moet ook gaan vir ‘n angiogram en daarna moet hy ‘n neuroloog sien oor die klont in sy brein wat hy na die beroerte opgedoen het. Sy ma wil graag haar seun na ‘n privaathospitaal oorplaas, maar nadat sy haar pensioengeld gebruik het, het sy ongelukkig geen ekstra kontant om te gebruik nie.Enigeen wat ‘n donasie wil gee om Pierre te help, kan die volgende bankbesonderhede gebruik: Me. C Fitzpatrick, Capitec Bank, rekeningnommer 1542164271, takkode 470010.

Pierre saam met sy drie dogters voor hy siek geword het.

Related Articles

Back to top button