NewsNews

Tye is moeilik en self werk skep is die ding

Tye is moeilik en self werk skep is die ding

VANDERBIJLPARK. – Wat gemaak as jy in jou leeftyd ‘n sakeman was en met jou aftrede is die pensioen maar skraps en die inhoud van die pot op die tafel word elke dag duurder? Jy skep vir jouself werk.
Baie pensioenarisse en werklose mense staar hul blind teen ‘n karige SASSA pensioen en korporatiewe werk waarvan daar tans ‘n groot skaarste is. Om werk te kry vir jonk en oud is ongekend en selfs gegradueerde jongmense doen alternatiewe werk.
‘n Mens sien gereeld vir Marthinus (Krappie) van Staden Engelbreght, ‘n inwoner van Maskewstraat, buite staan en skuur en kap aan iets. Met nadere kennismaking kom ‘n mens agter dié 74-jarige man se talente het geen einde nie en skep hierdie hande vir homself ‘n inkomste.
Krappie en sy oorlede vrou Poppie was in die jare sewentig eienaars van ‘n slaghuis in Risiville en toe hy die onderneming verkoop het, het hulle ‘n motorfietsonderneming gehad. Tannie Poppie is in 2017 oorlede en daar sit hy toe stoksielalleen en met net ‘n klein karige neseier waarmee hy moes oorleef.
In 1982 het die verveeldheid hom egter oorval en het hy ‘n ossewa uit hout gebou, min wetend dat dit die begin was van ‘n verskuilde talent wat nou op sy oudag vir hom ‘n bron van inkomste is en wat so broodnodig is op sy ouderdom.
Ses jaar gelede is hy gevra of hy nie die ossewa wil verkoop nie, wat hy toe nie gedoen het nie, maar daar en dan het hy besluit om van diè geleentheid ‘n inkomste te maak.
Met meer as 100 items agter die rug wat wissel van ossewaens, perdekarre, koetse, horlosies, Bethlehem stalle, pophuise, pophuismeubels, juweelkassies en verskeie ander items, is daar geen einde aan die man se verbeelding nie.
Krappie se voorkeur is natuurlik hout en net een soort, naamlik Meranti, maar aluminium windpompe en eiffeltorings het ook al die lig gesien.
Al Krappie se items is baie noukeurig nageboots en sonder ‘n rekenaar en Google sê hy kom al die idees van sy rekenaar hier bo in die kop. Waar professionele modelbouers gesofistikeerde toerusting gebruik, het hy net die gewone ou gereedskap.
Daar is nie eens ‘n draaibank in die motorhuis nie en elke wielietjie word noukeurig gesaag en geskuur.
Volgens Krappie gaan baie tyd in die bouwerk in, maar hou hy ook van tuinwerk en doen alles in en om die huis self.
Hy het al baie bestellings vir vriende, familie en vreemdelinge gedoen wat op hoorsê sommer sy bemarking vir hom doen. Mense wat met dié energieke en talentvolle bejaarde man wil kontak maak, kan hom by 074 909 4791 skakel.

Hierdie Queen Elizabeth koets is met besondere vernuf en kundigheid gebou. Foto’s: Jannie du Plessis

  AUTHOR

Jannie du Plessis
Journalist / Photographer

Related Articles

Back to top button