NewsNews

Groot kommer oor impak van VSA-tariewe op SA se staalbedryf

Groot kommer oor impak van VSA-tariewe op SA se staalbedryf

Woensdag, April 11th, 2018

Solidariteit het vandag sy kommer uitgespreek oor die moontlike impak van invoertariewe wat onlangs deur die VSA op staal- en aluminiumprodukte aangekondig is. Die invoer-tariewe van 25% op staal en 10% op aluminium raak die Suid-Afrikaanse staalbedryf direk omdat die bedryf sowat 330 000 ton, oftewel 5% van die plaaslike bedryf se produksie, na die VSA uitvoer.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, heers daar groot kommer onder plaaslike rolspelers in die bedryf. “Daar heers werklik groot kommer onder rolspelers dat die tariewe wat die VSA op staal- en aluminiumprodukte instel ons plaaslike bedryf gaan skaad en werksverliese tot gevolg kan hê. Die Suid Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf het die afgelope paar jaar ʼn ernstige inkrimping beleef en verkeer steeds onder groot druk. Die plaaslike bedryf kan eenvoudig nie enige verdere terugslae bekostig nie,” het Croucamp gesê.

Amptenare van die departement van handel en nywerheid kon nie in hul eerste poging slaag om die VSA te oortuig om Suid-Afrika vry te stel van die tariewe wat deur die Trump-administrasie op staal en aluminium aangekondig is nie. “Die feit dat die Suid-Afrikaanse regering verdere voorleggings aan die VSA moes doen om enigsins in oorweging te kom vir afslag of kwytskelding van die invoertariewe dui op die kompleksiteit van die aangeleentheid.

Die VSA het daarin geslaag om verkeie handelsooreenkomste te wysig in hul onderhandelinge oor staaltariewe met onder meer Suid-Korea waar die VSA nou heelwat meer motors na Suid-Korea gaan uitvoer, maar uitvoere van staal uit Suid-Korea na die VSA gaan beperk word tot ʼn kwota van 70% van gemiddelde uitvoere in 2017,” het Croucamp gesê.

Croucamp sê voorts dat die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davis, reeds aangedui het dat plaaslike staal- en aluminiumvervaardigers bereid is om in te stem tot uitvoerkwotas van 70% na die VSA en wat reeds aan die Amerikaners voorgehou is. “Dit dui daarop dat daar in die waarskynlike beste scenario ʼn afskaling van sowat 30% in uitvoer-produksie na die VSA kan wees, wat glad nie goeie nuus vir die plaaslike bedryf inhou nie,” het Croucamp bygevoeg.

Plaaslike rolspelers wat deur die tariewe geraak word, sluit in ArcelorMittal Suid-Afrika wat sowat 70 000 ton staal jaarliks na die VSA uitvoer, South 32, Hulamin en Columbus. Intussen het China ʼn klagte ingedien by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) teen die VSA oor die tariewe op staal en aluminium wat die VSA ingestel het. Volgens die WHO se voorgeskrewe prosedure moet daar eers konsultasie tussen die VSA en China plaasvind waarna die dispuut ná 60 dae deur die WHO bereg kan word.

Solidariteit het verlede jaar ʼn reuseveldtog van stapel gestuur om die plaaslike staalbedryf te ondersteun. Solidariteit se veldtog, wat bekend staan as die Steun Ons Staal-veldtog bied ondersteuning aan die plaaslike staalbedryf om die volhoubaarheid van die bedryf te help verseker. Die veldtog sluit gereelde skakeling met die regering, die voer van gesprekke met bedryfsrolspelers asook skakeltoere na fabrieke en aanlegte in.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button