NewsNews

Amsterdamse violiste lei konsert in Vredefort

Die internasionaal bekende barokvioliste Antoinette Lohmann van Amsterdam, lei in Mei ’n koor- en orkesprojek van die Koepel Kunstesentrum, waartydens die gewilde oratorium, “Die Messias” van Georg Frederic Handel, uitgevoer sal word. Antoinette is reeds ’n ou bekende in Suid-Afrika. Sedert 2008 bied sy meestersklasse, orkesprojekte en konserte dwarsoor die land aan in verskeie besoeke jaarliks.

Lohmann is tans hoof van die afdeling vir Vroeë Musiek aan die Konservatorium in Utrecht, en onderrig ook aan die Konservatorium van Amsterdam. Sy word in die komende projek bygestaan deur Anke Nevermann van Freiburg, Duitsland.
“Die Messias” word op 19 Mei in die NG Kerk in Vredefort uitgevoer deur die Ensemble Fons Partita, bestaande uit ‘n kamerkoor en orkes. Hierdie groep het reeds ‘n lang tradisie van aanbiedings in die omgewing.
Afgesien van uitvoerings in Johannesburg en Pretoria, tree hulle ook in die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg op, en ook gereeld in Vredefort.
In samewerking met die orreliste en koorleidster, Erna Rademan, wat groot bekendheid vir haar gewilde Kersuitvoerings verwerf het, poog die Koepel Kunstesentrum om met gereelde musiekuitvoerings van internasionale kwaliteit die NG Kerk in Vredefort as ’n  konsertbestemming in die platteland te vestig.
Om hierdie werk ook in Vredefort te kan uitvoer, is ’n  gehoor van minstens 200 toehoorders nodig.
Kaartjies kan onmiddellik bespreek word by Gerhard Benade, verkieslik per e-pos by gerhard@deelfontein.co.za, of andersins per SMS by 083 280 9784.
Indien 200 kaartjies teen 30 April verkoop is, vind die konsert plaas. Persone wat wil help om kaartjies te verkoop, kwalifiseer met elke 10 verkoopte kaartjies vir een gratis kaartjie. Kontak Gerhard vir besonderhede.
* Kry nou jou kaartjie vir “Die Messias” op 19 Mei om 18:30 deur die Ensemble Fons Partita. Toegang is R100 per persoon. Meer inligting is beskikbaar op www.deelfontein.co.za.

Related Articles

Back to top button