NewsNews

Boeliegedrag in skole ’n realiteit

Twee ma’s vertel oor hoe hul dogters by laerskole in Potchefstroom geboelie is.

Navorsing wat in 2012 deur Unisa gedoen is oor boeliegedrag in skole, toon dat 38,4% van die leerders slagoffers van fisieke en 55,3% van emosionele boeliegedrag was. Byna 3 400 slagoffers was deel van die navorsing.
Dit toon ook dat 16,9% slagoffers van boelie op sosiale media soos Facebook, WhatsApp en Twitter was. Van die slagoffers word 32,2% by die skool geboelie en 29,3% buite die skool.

Prof. Pieter Joubert, ’n sielkundige in Potchefstroom, sê boeliegedrag kan lei tot depressie en selfs selfmoord.
Op Dinsdag 13 Maart het ’n 12-jarige seun van Springs sy eie lewe geneem. Daar is gerugte dat hy dit gedoen het omdat hy geboelie was. Dit kan nie bevestig word nie aangesien sy ouers, volgens ’n berig in Netwerk24, nooit ’n klag van afknouery by die skool gelê het nie.

’n Ma moes haar kind in ’n ander skool sit:

Boeliegedrag by skole gebeur ook in Potchefstroom. ’n Ma wat verkies om anoniem te bly, sê dat haar dogter vir jare lank by ’n skool in Potchefstroom geboelie is. Dit het begin toe sy in graad 1 was. Dieselfde dogter het haar by die skool aanhou boelie tot die gesin uiteindelik aan die einde van haar graad 2 jaar na ’n ander provinsie verhuis het.
Die ma sê haar dogter is gestamp en gestoot, haar speelgoed is gebreek en die boelie het selfs wondergom in haar hare gedruk.

Sy sê sy het verskeie kere met die skool, sowel as met die ma van die boelie, gepraat, maar dit het niks gehelp nie. Die kind het net aangehou om haar dogter te boelie. “Sy was elke dag in trane wanneer ek haar by die skool gaan haal het en sy wou nie meer skool toe gaan nie,” sê sy.

“Sy het al haar toetse gedruip. Die juffrou het ook begin lelik raak met haar omdat sy moeg was daarvoor dat ons heeltyd oor die boelie kla.”

Sy sê al oplossing was om haar kind in ’n nuwe skool te sit. Sy wil egter steeds weet hoe ouers so ’n situasie moet hanteer, veral as die skool nie help nie.

Nog ’n Potchefstroomse ma het dieselfde paadjie met haar dogter gestap. Sy was in ’n laerskool waar sy van graad 1 af vir jare lank emosioneel geboelie is. Sy het by die naskoolklas die meeste onder boelies deurgeloop aangesien sy tydens skooltyd die boelies vermy het.

“Ons onderwyseres wat by die naskool was, het dit gesien, maar ek dink nie sy het dit ernstig opgeneem nie,” sê die dogter. Sy was ’n slagoffer van verbale boeliery. ’n Groep kinders het al haar vriende teen haar laat draai en vir nuwe kinders in die naskoolklas gesê om weg te bly van haar af.

So het sy geen vriende by die skool gehad nie. Sy moes ook gereeld luister na snedige opmerkings oor haar ma. Die ma het self een middag ’n kind gekonfronteer toe sy by die skool kom en sien haar dogter is in trane.
Hulle het met die naskool onderwyser daaroor gepraat, maar al wat die skool gedoen het, was om plakkate vir boelie-bewusmaking op te sit.

“Hulle het nooit met ons kom praat nie en die onderwysers het niks gedoen nie.”

Sy het weens haar ongelukkigheid by die skool ophou deelneem aan sport en het gewig opgetel. Die ma is veral ontsteld oor ’n voorval waar ’n onderwyser voor die hele klas haar dogter gekonfronteer het oor ’n agterstallige skoolgeld-rekening. Toe die saak na die hoof geneem is, is dit baie sleg teenoor die onderwyser hanteer en die onderwyser het haar dogter daarvoor blameer.

Uiteindelik is haar dogter aan die einde van haar graad 5 jaar na ’n ander skool waar sy weer begin sport doen en baie beter presteer het. Hoewel daar ook een voorval van boeliery in die nuwe skool was, het die skool dit goed hanteer en was sy daarna nie weer ’n slagoffer nie.

Wat die skole doen:

Die Herald het laerskole in Potchefstroom gevra hoe hulle boeliegedrag in hul skole hanteer. Slegs twee het gereageer. Die dissiplinêre komitee van Baillie Park Laerskool sê dat boeliegedrag toeneem en dat boelies gewoonlik kinders is wat tuis geboelie word, hetsy deur hul ouers, boeties of sussies.

Baillie Park bied die geleentheid vir kinders om boelies te rapporteer. Kinders wat geboelie word kan met hul onderwyser praat of ’n anonieme brief met die naam van die boelie in die skool se boelieboks gooi.
As ’n ouer bewus is daarvan, of selfs vermoed dat hulle kind by die skool geboelie word, kan hulle die skoolhoof direk kontak.

Die slagoffer en die boelie word dan apart ondervra sowel as enige getuies. Indien ’n boelie skuldig bevind word aan boeliegedrag by die skool, moet die kind vir ’n week elke pouse in die saal sit. Indien die boeliegedrag dan voortgaan, word ’n dissiplinêre verhoor met ’n gepaste straf en finale waarskuwing gegee.

Laerskool Mooirivier het die afgelope twee jaar ’n struktuur wat hulle gebruik om boeliegedrag by hul skool te bekamp. Hulle het ’n boeliekomitee wat bestaan uit personeellede sowel as ouers en lede van die skool se beheerliggaam.

Nie net kan kinders boelies by die onderwyser of by die boeliekomitee aanmeld nie, maar elke onderwyser is verantwoordelik daarvoor om kinders in hul klas te monitor. Indien ’n kind se punte skielik begin daal of ’n kind aggressie toon, kan die onderwyser die inligting na die boeliekomitee neem om ondersoek te word.

“Geen gevalle van boeliery behoort met hierdie struktuur deur die sif te val nie,” sê adjunkhoof Jakkie van Vuuren. “Tog is daar kinders wat geen tekens wys nie, en nooit die boelie aanmeld nie.”

Hy sê ook dat ouers wat weet dat hul kinders geboelie word, dit dadelik moet aanmeld, want dit is moeilik om ’n saak van boeliery wat maande gelede gebeur het, te hanteer.

“Die tye het verander en ouers se betrokkenheid by hulle kinders is baie minder, want pa en ma werk. As jy begin lees wat die kinders in hul lewensoriënteringsboeke skryf oor waardeur hulle gaan, dan wonder jy soms of die ouers weet wat in hierdie kinders se lewens aangaan,” sê hy.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button