NewsNews

VF Plus hof toe met Ngwathe munisipaliteit

‘n Hofaansoek deur die Vryheidsfront Plus waarin gevra word dat ‘n vergadering van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, wat die dorpe Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort bedien, wat gehou was op 5 Oktober 2017 ongeldig verklaar word en die besluite wat daartydens geneem was ter syde gestel word, is Woendsdag op die munisipaliteit beteken.

Volgens VF Plus Raadslid Phillip van der Merwe, ‘n Heilbronse prokureur en mede-applikant in die saak, het die bring van die aansoek gekulmineer uit maandelange frustrasie weens die Speaker, Komiteevoorsitters en die munisipale bestuurder se volgehoue versuim om wetlike bepalings en reels wat betrekking het op die belê van vergaderings en die tydige verskaffing van inligting oor sake wat op die agendas moet dien na te kom. Tydens die gewraakte vergadering, wat nie met voldoende kennisgewing soos wat die munisipaliteit se staande reels vereis belê was nie, was besluite geneem om miljoene rande se onreëlmatige-, ongemagtigde-, verkwiste- en vrugtelose uitgawes asook bates sonder meer af te skryf.
“Alhoewel die Munisipale Finansieswet uitdruklik bepaal dat sulke uitgawes slegs deur die Raad afgeskryf kan word nadat ‘n komitee van die raad dit deeglik ondersoek het en ook aanbeveel het of iemand daarvoor verantwoordelik gehou kan of moet word of nie, en nieteenstaande ernstige besware teen die voorgestelde proses deur o.a. myself, het die Speaker nogtans voortgegaan met die “onwettige” vergadering” sê Raadslid van der Merwe. “Selfs nadat al drie opposisie partye in die Raad, die VF Plus, DA en EFF, geweier het om die vergadering by te woon en deel te neem aan die “onwettigheid”, was daar steeds voldoende ANC Raadslede aanwesig om ‘n kworum te vorm en is ‘n groot aantal uitgawes wat wetlik eers ondersoek moet word, sondermeer gekondoneer.”
“Ek is oortuig dat daar inderdaad tussen die vrugtelose uitgawes uitgawes was wat minstens grof nalatiglik, indien nie met opset nie, aangegaan was waarvoor amptenare waarskynlik verantwoordelik gehou sou kan word indien ‘n behoorlike ondersoek daarna wel plaasvind soos wat die Wet vereis” voeg hy by. Daar word lank reeds op enorme skaal deur amptenary gebruik gemaak van sogenaamde “spesiale vergaderings” van die Raad om sake wat eintlik op gewone vergaderings tuishoort op slegs 48 uur kennisgewing voor die Raad te bring. “Meermale beslaan die agendas vir sulke vergaderings letterlik honderde bladsye wat dit bykans onmoontlik maak om dit deeglik te bestudeer binne die beskikbare tyd en kan ongerymdhede so deur die net val sonder dat dit raakgesien word – veral ook wanneer gepoog word om verdagte uitgawes vinnig gekondoneer te kry soos wat by die gewraakte vergadering gebeur het.”
Die munisiplaliteit moet binne 15 dae op die aansoek reageer.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button