NewsNews

Slagpale-moord: Hof hoor hoe roof beplan was

Een van die beskuldigdes wat van die moord op mnr. Koos van der Leeuw aangekla word, het vandeesweek in die hooggeregshof vertel hoe die roof beplan is.

Een van die beskuldigdes wat van die moord op mnr. Koos van der Leeuw aangekla word, het vandeesweek in die hooggeregshof vertel hoe die roof beplan is.
Hoewel die beskuldigde, Bibi Nycamphalala, in September 2015 dié verklaring en uitwysings aan die polisie gemaak het, het hy tydens die verhoor getuig dat hy dit onder dwang gedoen het.
Die hof het egter tydens ’n binneverhoor bevind dat die uitwysing en verklaring as bewys toegelaat sal word.
Die saak volg nadat gewapende rowers Van der Leeuw en sy vrou Marietjie in 2015 by die slagpale oorval het toe hulle daarheen gery het om ‘n kontanttransaksie te beklink.
Die rowers het sowat R77 500 tydens die rooftog gebuit en mnr. Van der Leeuw in die kop geskiet nadat hy een van die rowers geskiet het.
Volgens Nycamphalala se verklaring is hy in Julie 2015 deur een van sy medebeskuldigdes, Aida Lebaka, se suster gekontak wat aan hom gesê het dat een van die ander beskuldigdes, Samuel Motsi, ook bekend as ‘Madala’, mense soek om te help met ‘n rooftog by die slagpale.
“Ek het vir haar gesê dat ek nie weet hoe om die werk te doen nie, aangesien ek slegs dagga verkoop,” lui sy verklaring. Twee weke later het Nycamphalala saam met ’n vriend in Soweto gaan dagga aflaai.
Nadat die dwelms afgelaai is, het hulle na ’n karwasplek gegaan waar sy vriend hom aan “Mofeti” voorgestel het wat glo die rooftog kan doen, omdat hy baie sulke werk doen.
Ongeveer ’n week later het “Mofeti” weer gebel om Nycamphalala in te lig dat hy alles gereël het waarna hulle mekaar weer by die karwasplek ontmoet het. Daar het Nycamphalala vir “Mofeti” en twee ander mans ontmoet, waarna hulle na Lebaka se huis is.
Sy het vir hulle gesê om vir Motsi te skakel.
Twee dae later is Nycamphalala, die drie mans en Lebaka na Motsi se huis in Potchefstroom waar hy vir hulle alles rondom die slagpale verduidelik het.
“Hy het gesê dat daar elke Dinsdag ongeveer 05:30 baie geld op die perseel is en dat die slagpale al vantevore beroof is, maar dat die eienaar nie ’n saak aangemeld het nie,” lui die verklaring.
Die groep is na die slagpale waar Motsi vir hulle gewys het waar hulle kan inkom en waar ’n ontsnaproete is. Volgens die verklaring was daar op die dag van die roof altesaam nege mense betrokke.
Hulle het by Motsi se huis bymekaar gekom waarna hulle na die slagpale is. Vier mense is in ’n blou Subaru na die slagpale, die ander vyf het in ’n wit Mercedes Sprinter op die Ventersdorppad gewag.
Die insittendes van die Subaru het na die rooftog gebel om te verduidelik dat een van hulle raakgeskiet is en dat hulle ook geskiet het. Hulle het mekaar op die N12 gekry, waarna hulle in die rigting van Klerksdorp gevlug het. Ongeveer 40km anderkant Klerksdorp het hulle die gewonde rower in die Sprinter oorgelaai.
“Ek het gesien hy gaan doodgaan, ons het op die N14 in Krugersdorp se rigting gery. Eers toe ons naby Krugersdorp kom, het ons gesien hy is dood. Ons het in veld gestop waarna ons hom langs ’n rivier gelos het,” lui die verklaring.
Die groep het mekaar weer in Alberton gekry waar hulle die geld wat gebuit is, onder mekaar verdeel het. Volgens Nycamphalala het elkeen R7 000 ontvang, waarna hulle hom by die taxi-staanplek afgelaai het.
As deel van die uitwysing het Nycamphalala die polisie na Motsi se huis gelei, asook na die slagpale en waar die Sprinter gestaan het.
Die saak is Woensdagoggend vir 16 tot 20 Julie uitgestel vir verdere verhoor, nadat Motsi se regsverteenwoordiger aangedui het dat sy siek is.

Slagpalemoord: Beskuldigde erken sy help rooftog beplan

Related Articles

Back to top button