NewsNews

Parys kunstefees- kry NOU jou kaartjies!

Parysenaars en besoekers aan die dorp sal eersdaags kuns in sy verskeidenheid letterlik om elke hoek en draai in die dorp beleef wanneer die dorp van 29 Maart tot 15 April sy eerste kunstefees hou.

Van fotografie tot dans, ’n jolige straatpartytjie, kuns in die park langs die Vaalrivier-oewer, ’n verskeidenheid van vertonings, ‘n kunsroete vir die viervoete, “colour run” en selfs slaggat-kleur is deel van die kunsbeleef-spyskaart wat reg sal laat geskied aan die naam wat Parys het as kunstenaars-mekka.
Die fees se eerste uitstalling kan nou reeds by The Dog & Fig net buite Parys besigtig word met uitsonderlike swart-en-wit fotografie wat nog op film geneem en ontwikkel is.
Dié uitstalling word op 25 Maart om 18:00 by The Dog & Fig geopen en mense kan die opening gratis bywoon.
Die opening val saam met ’n  wynproe geleentheid en piekniekmandjies wat te koop sal wees.
Die fees self open amptelik op 29 Maart om 18:00 by Egweni met van Gumboot-dansers en ’n marimba-orkes, tot opera-sang en die Chris van Niekerk-strykers. ’n Wye verskeidenheid kulture saam onder een kunssambreel met kaas-en-wyn.
Saterdag 30 Maart is die fokus op die kinders met onder meer sang, gesigverf, maskermaak, pottebakkerswerk, skilder en verf. Die prysuitdeling vir die hoër- en laerskool kunskompetisie sal dan ook plaasvind.
Elke Saterdag kan jy toer deur Parys met ’n heerlike “Safari Supper” aangebied deur Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum.
Op 31 Maart is die 3 Reisigers, Dana Snyman, Johan Badenhorst en Johan Bakkes in die dorp vir ’n gesellige vertoning saam met Gert Vlok Nel. Die drie het beslis geen bekendstelling nodig nie en sal jou beslis sover kry om in gees die tasse nader te sleep en saam te reis.
Maandag 2 April het feesgangers geleentheid vir ’n baie unieke uitstappie saam met jou viervoet vriend met honde-bederfies, wanneer daar gestap word om 08:00 in groepe vanaf  The Garden (Middelstraat 8).
Hierdie heerlike familie-uitstappie saam met jou troeteldiere kan jy nie misloop nie. Daar is bakke met dierevriendelike verf waarmee die dorp se sypaadjies letterlik rooi (en blou en groen) geverf gaan word. Alle “kunstenaars” moet aan ‘n leiband wees.
Daar is verversingspunte met water en spe-siale hondelekkernye, geborg deur La Oma slaghuis. Die stap eindig weer by The Garden met ‘n mega kunswerk en ‘n “pool party” vir die honde om in af te spoel voor hulle huis toe gaan.
Inskrywingsgeld beloop R57.50 aanlyn by ParysArtsFestival.co.za, of as jy kontant wil betaal slegs R50. Jy kan jou kaartjies gaan afhaal by die Parys Info kantoor. Winste gaan vir die Parys DBV.
Op Donderdag 5 en 12 April bied Marina Welsh, bekende beeldhouer van Johannesburg, ’n Figuur Werkswinkel aan. Elkeen wat die geleentheid bywoon sal ’n eie figuurstudie kan huis toe neem.
En as jy iets aan die slaggate wil doen, kom verf saam die meer gat as pad in neon elke Vrydagaand saam met Epilepsie Suid-Afrika wat die kaartjies vir die Neon Pothole Painting verkoop.
Op Saterdag 7 April word daar hande gevat met die Hartelus Mark vir ’n “Art on the Banks” geleentheid. Daar is nog stalletjies teen R300 beskikbaar vir kunstenaars, handwerk, juwele, klere – enigiets met ’n kuns aanslag sal voorkeur geniet bo ander aansoeke. Kom snuffel saam en geniet die kunstige verskeidenheid in die mooi van die natuur.
Die dag word afgesluit met ’n Art Explosion soortgelyk aan ’n “colour run” en skuimpartytjie later die middag vanaf 16:00. Dan word daar ook nog ‘n straatpartytjie beplan vir Saterdag 14 April en is daar verskeie vertonings en optredes.
Hieronder tel die optrede van Wasgoedlyn (7 April), The Classic Wave (13 April), You Suck en ander Afgryslike Waarhede (14 April), Terug na Donkiespad: Geskoei op verhale van dr. Con de Villiers (14 April) en ’n Paaskantate (15 April). Ander verrassings op die program is DJ Wester en Jak de Priester.
Kunstenaars kan gerus ook die ARTChair projek ondersteun waarmee jy op jou unieke wyse ’n stoel kan opdoilie, verf of verfraai.  Die stoele sal opgeveil word ten bate van verdienstelike organisasies.
Om te help om die fees te befonds sal loo-tjiekaartjies verkoop word waarmee ’n vakansie ter waarde van R8 500 in die Drakensberge gewen kan word. Maak seker jy kry jou kaartjie. Vir meer inligting oor die Parys Kunstefees hou die Parys Arts Festival Facebook-blad dop, of gaan na die webwerf www.parysartsfestival.co.za, of skakel 083 409 9041 vir meer inligting oor die feesprogram en kaartjies.

Daar gaan ook stoele opgedoilie word tydens die fees.

Related Articles

Back to top button