NewsNews

Geen sopkombuis vir hulle in nood ná inbraak

Terwyl personeel van Vrystaat Versorging in Aksie weekliks moet raap en skraap om te voorsien in die nood van sovele wat hier om hulp kom aanklop, is daar verlede Donderdag twee keer by die organisasie ingebreek en groot skade aangerig.

Die eerste inbraak was Donderdagnag om 21:30 toe daar by die kombuis aan die agterkant van die organisasie se kantoor in Buitenstraat toegang tot die gebou verkry is. Die alarm het afgegaan, maar van die skuldiges was daar geen teken nie.
Daar is niks gesteel nie, maar een van die personeellede se rekenaars is in die gang neergesit en die alarm se ogies vermoedelik omgedraai.
Later die aand het die inbrekers teruggekeer.
Dié keer het die alarm nie afgegaan nie, en is die rekenaar toe weggedra, asook die gasstoof, voedselverwerker en nie-bederfbare voedsel wat juis vir hulle wat nie kos het nie, uitgegee word. Selfs die vrieskaste is oopgebreek, maar die gevriesde brood en groente is laat staan.
Die gevolg van hierdie diefstal van die voorraad is dat daar sedert verlede Vrydag en hierdie week, nie ’n daaglikse sopkombuis gehou kon word nie.
Tot sowat 60 behoeftiges eet daagliks by die sopkombuis. Die voedsel wat nou oor is, word uitgegee in kospakkies vir behoeftiges omdat daar nie meer genoeg voorraad vir die sopkombuis ook is nie.
As ’n gasstoof, voedselverwerker en skenkings vir nie-bederfbare voedsel nie gou gekry word nie, is daar nie hoop dat die sopkombuis gou weer hervat sal kan word nie.
Mense wat kan help om in hierdie dringende behoefte te voorsien, word gevra om asseblief die VVA-kantoor by (056) 811 2971, of Sanette Boonzaier by 079 324 0603 te skakel.

Related Articles

Back to top button