NewsNews

As die gras aan die ander kant groener lyk… steel dit!

Die Bybel sê mens mag nie steel nie en niks van jou naaste begeer nie. Sluit dit ook jou naaste se grasperk in? Retha Fitchat SASOLBURG. – Die Bybel sê mens mag nie jou naaste se huis begeer nie. Ook nie sy vrou, dienskneg, diensmaagd, os of esel nie. Maar hoe gemaak as jou buurman …

Retha Fitchat

SASOLBURG. – Die Bybel sê mens mag nie jou naaste se huis begeer nie. Ook nie sy vrou, dienskneg, diensmaagd, os of esel nie. Maar hoe gemaak as jou buurman – of in hierdie geval die munisipaliteit – se gras aan die ander kant van die draad vir jou so begeerlik lyk dat jy dit net móét hê?

Jy stuur dan ‘n tuinwerker om die gras netjies uit te haal sodat jy dit in jou eie tuin kan gaan oorplant of dalk verkoop.

Dit is presies wat onlangs so byna met die munisipaliteit se welige strook gras in die groenstrook langs President Brandweg in die dorp gebeur het. Die onbekende werker het reeds etlike meter van die gras uitgehaal en in netjiese hope begin versamel totdat ‘n inwoner en raadslid van die dorp, Jacques Barnard, dié ongewone optrede raakgesien en aangemeld het.

Die dorp se brandweer, parkeafdeling en verordeninge (bylaws) afdeling het vinnig gereageer en ‘n stokkie voor die oortreders se lang vingers gesteek. Die gras is weer teruggeplant waar dit uitgehaal is en die skade is dus minimaal.

Mnr. Wimpie Fourie van die Sasolburg Gemeenskaps-aksiegroep het die oplettende raadslid en die betrokke munisipale dienste geloof vir hul vinnige optrede. Hy moedig die publiek aan om voorvalle soos dié dadelik by die groep of die betrokke owerhede aan te meld wanneer hulle vermoed dat iets nie pluis is nie. Sommige Facebook-lede het beswaar gemaak omdat dié poging tot diefstal deur die aksiegroep veroordeel is, terwyl daar eerder aandag aan ernstiger misdade soos moord en verkragting gegee kan word. Mnr. Fourie se antwoord aan die klaers is dat geen misdaad oogluikend aanvaar kan word nie.

“Waar presies wil jy hê moet ons die streep trek rondom die plundering van ons dorp? As ons hierdie mense moet los, moet ons die kabeldiewe ook los? Moet ons die mense wat substasies plunder en dan woonbuurte, besighede en ander dienste in die donker laat, ook maar los? “Moet ons mense wat munisipale bome afsny los? Wat van die persoon wat by jou huis inbreek, moet hy maar ook gelos word? Met watter kriminele oortredings is jy gelukkig om saam te leef,” is sy vrae aan die klaers.

Dit is nog onbekend of enigiemand in verband met die poging tot grasdiefstal vervolg gaan word.

En vir dié wat nie hul Bybel so goed ken nie: Die agtste gebod sê jy mag nie steel nie en die tiende gebod sluit daarmee af dat jy niks van jou naaste mag begeer nie. Dit sluit sekerlik ook jou buurman se grasperk in.

‘n Groot gedeelte van die munisipale grasperk in die groenstrook langs President Brandweg was reeds verwyder en in netjiese hopies opgestapel voordat die diefstal deur ‘n oplettende raadslid raakgesien en aangemeld is.

Related Articles

Back to top button