NewsNews

Breinkanker eis Barnie Venter, maar sy nalatenskap leef voort

Só sal Parys Gazette se susterskoerante Vaalweekblad en Ster ons oud-kollega onthou…   Retha Fitchat SASOLBURG. – Vir Barnie Venter (33), geliefde onderwyser, musikant, toneelliefhebber, sketskunstenaar, filosoof en voormalige taalversorger van MooiVaal Media, het die gordyn Saterdag, 3 Maart, vir die laaste keer gesak. Vierdegraadse breinkanker het dié talentvolle jong man, wat so moedig teen …

 

Retha Fitchat

SASOLBURG. – Vir Barnie Venter (33), geliefde onderwyser, musikant, toneelliefhebber, sketskunstenaar, filosoof en voormalige taalversorger van MooiVaal Media, het die gordyn Saterdag, 3 Maart, vir die laaste keer gesak.

Vierdegraadse breinkanker het dié talentvolle jong man, wat so moedig teen sy siekte geveg het, geëis nadat longontsteking ook onlangs ingetree het.

Barnie is op 6 November 1984 in Middelburg gebore en was skaars ‘n maand oud toe sy ouers na Vaalpark verhuis het, waar hy later aan die Laerskool Lumière en die Hoërskool Vaalpark skoolgegaan het. By laasgenoemde het hy sy matriekjaar as hoofseun afgesluit.

Hy het ‘n BA-graad in Taalpraktyk en sy honneursgraad in Afrikaans-Nederlandse letterkunde (cum laude), sowel as ‘n hoëronderwysdiploma aan die NWU se Vaaldriehoekkampus behaal, en ook ‘n jaar in Engeland deurgebring voordat hy sowat tien jaar gelede as Engelse taalversorger by MooiVaal Media aangesluit het. Hy het MooiVaal Media se diens later vir die onderwys verruil en by die kunsskool Vaalpark Articon en later die Hoërskool Transvalia skoolgehou.

Barnie het reeds as kleuter begin teken en uiteindelik ‘n uitstekende sketskunstenaar geword. Hy het homself deur die jare ook leer kitaar speel en het in verskeie kerk-bands gespeel en gesing. Hy het ‘n passie vir toneelkuns gehad en gedurende die tyd wat hy by Transvalia skoolgehou het, ‘n sterk tienertoneelgroep op die been gebring. Sy leerlinge kon hulle ook verlekker in die talle dramas en gedigte wat hy geskryf het.

Gesondheidsprobleme het in 2009 die eerste keer ingetree toe hy kwaai hoofpyne en epilepsie begin kry het. Hy en sy gesin moes die skoknuus verwerk dat hy ‘n gewas so groot soos ‘n gholfbal in die brein het. Hy is in die Wilgeheuwel-hospitaal geopereer, maar omdat dit sy motoriese funksies kon belemmer as die gewas volledig verwyder sou word, is dit net gedeeltelik uitgesny. Verdere epileptiese aanvalle en nóg twee operasies het in 2016 gevolg. Dit is opgevolg met bestraling en chemoterapie en teen November verlede jaar het die oorblywende deel van die gewas reeds aansienlik gekrimp. Die goeie nuus was egter van korte duur, want kort daarna het hy ‘n massiewe epileptiese aanval in die stort gekry en sy kop sleg gestamp. Van daar af het dinge net afdraand gegaan, sê sy weduwee-ma, mev. Krappie Venter. “Ons kan net met lof praat oor die behandeling wat Barnie by Mediclinic Vereeniging se Onkologie-afdeling gekry het,” sê sy. Barnie is Saterdag in dié hospitaal oorlede nadat sy toestand vroeër die dag skielik begin verswak het. Sy ma, sy suster en sy beste vriend vanaf sy laerskooldae was by toe hy sy laaste asem uitblaas. Die nuus oor sy dood het so vinnig versprei dat honderde boodskappe van medelye, selfs uit Europa, binne ‘n halfuur op sy gesinslede se fone begin deurkom het.“’n Mens voel opstandig as jou kind wat nog soveel gehad het om aan die wêreld te bied, weggeneem word, maar dit bring tog ‘n mate van berusting as ons hoor hoeveel kinders se lewens hy deur die jare positief beïnvloed het,” sê sy ma.

Barnie word buiten sy ma ook oorleef deur sy suster Annalize Cunnington en twee broers, Kobus en Burger. Mev. Venter bedank al die dokters en verpleegpersoneel wat Barnie deur die jare behandel en versorg het, en so ook hul vriende en familie, en die Hoërskool Transvalia se hoof, personeel en leerlinge wat die gesin dwarsdeur Barnie se siekte bemoedig en bygestaan het.

 

Fotoreeks: Barnie Venter, geliefde onderwyser by Artikon en Transvalia, en voormalige taalversorger by MooiVaal Media. Só gaan sy kollegas en leerlinge dié talentvolle jong man onthou. Hier is hy met kitaar in die hand tydens ‘n optrede.

Twee oud-kollegas van Vaalweekblad en Ster in hul jong dae: Barnie Venter en Jacques Steenkamp

Barnie en sy kitaar

Barnie en sy potplant, wat hy Tobias gedoop het.

Barnie, die ewige student, taalliefhebber en toneelafrigter, in diepe konsentrasie.

Related Articles

Back to top button