NewsNews

“Laat ons nie vassteek by die wreedheid nie”

”Laat ons nie vassteek by die wreedheid van wat gebeur het nie. Kom ons kyk daarby verby. Kom ons sê vandag dankie vir ’n lewe soos Dirk Steenkamp s’n.” “Dirk was nie ’n haatdraende mens nie. Hy was altyd positief. Die dood van Dirk Steenkamp roep ons almal op tot nuwe toewyding aan God.” “Ons …

”Laat ons nie vassteek by die wreedheid van wat gebeur het nie. Kom ons kyk daarby verby. Kom ons sê vandag dankie vir ’n lewe soos Dirk Steenkamp s’n.”
“Dirk was nie ’n haatdraende mens nie. Hy was altyd positief. Die dood van Dirk Steenkamp roep ons almal op tot nuwe toewyding aan God.”
“Ons bede is dat sy lewe en sterwe die goeie oor die kwaad sal laat oorwin.”
Dit was prof. Sybrand Strauss, se boodskap en pleidooi vanoggend, 8 Maart, by die dankdiens ná die ter aarde bestelling van sy  jarelange vriend, Dirk Steenkamp. wat vandag op sy 72ste verjaardag begrawe is.
Strauss en Steenkamp was vir meer as 60 jaar vriende, tydgenote – maar ook geesgenote.
Saam het hulle gebid, gelag en gekuier, en was hy ook een van die talle mense wat verslae Sondag 4 Maart op die plaas Tempe gestaan het, waar Dirk Steenkamp net voor 08:00 die oggend koelbloedig doodgeskiet is.
Steenkamp sou die oggend nog kerk toe gegaan het. Hy is enkele meter van sy woonhuis geskiet toe hy ‘n waterpomp gaan aansit het. Hy was reeds op pad terug huis toe, toe hy geskiet is. Sy vrou, Miekie, wat in die huis was, het die skote gehoor en hulp van ‘n buurman, George Justice, gevra. Steenkamp is op die toneel gekry en was reeds dood. Die verdagtes het dadelik na die moord gevlug.
Steenkamp se selfoon is Sondagaand sowat 900m van die plaas gekry waar dit in ‘n boom weggegooi is. Sy 6.35mm pistool wat hy by hom gehad het is steeds soek. So ook sy moordenaars.
Lede van LGV het Sondag op die toneel ‘n 9mm patroondoppie gekry. Daar word vermoed dat dit moontlik die wapen kan wees waarmee Steenkamp geskiet is.
Teen Maandagoggend is ook die hulp van die Sasolburgse honde-eenheid ingeroep om weer die toneel te fynkam.
Dirk Steenkamp was ’n mens wat gegee en omgegee het. Maar ook ’n mens wat nie ’n  dag begin het sonder om eers op sy knieë te gaan nie. ’n  Groot man wat die ware betekenis van nederigheid en naasteliefde geken het. Wat Saterdagaand nog voor hy gaan slaap het vir elkeen van sy kinders op die naam gebid het.
Iemand wat vandag in die stampvol NG Kerk in Vredefort ge-eer en gesalueer is vir die skatkis van net die mooiste herinneringe wat hy agterlaat. Ook aan die talle werkers van wie van hulle oor die 50 jaar vir hom gewerk het.
Sovele sou vandag net vir oulaas sy kenmerkende woorde wou hoor..”ek wou net jou stem gehoor het.”
“Ons moet opkyk, aan die Here vashou en aanhou,” het Steenkamp se seun, Barry gesê.

Related Articles

Back to top button