NewsNews

Vermoorde boer op sy verjaardag begrawe

Môre sal ‘n dorp treur – ’n  distrik, totaal verslae oor die dood van ’n man wat juis môre 72 sou wees. ’n Man wat sonder rede, sonder waarskuwing, koelbloedig op sy plaas doodgeskiet is. Dirk Steenkamp, bekende boer en sakeman sal op sy verjaardag op Donderdag 8 Maart om  09:30 in die Vredefort-begraafplaas begrawe …

Môre sal ‘n dorp treur – ’n  distrik, totaal verslae oor die dood van ’n man wat juis môre 72 sou wees.

’n Man wat sonder rede, sonder waarskuwing, koelbloedig op sy plaas doodgeskiet is.
Dirk Steenkamp, bekende boer en sakeman sal op sy verjaardag op Donderdag 8 Maart om  09:30 in die Vredefort-begraafplaas begrawe word. Die dankdiens is om 11:00 vanuit die NG Kerk in Vredefort.
Mnr. Steenkamp is Sondagoggend 4 Maart op sy plaas Tempe geskiet, enkele meter vanaf sy woonhuis op die plaas toe hy ‘n waterpomp gaan aansit het. Hy was reeds op pad terug huis toe, toe hy geskiet is.
Sy vrou, Miekie, wat in die huis was, het die skote gehoor en hulp van ‘n buurman, George Justice, gevra. Steenkamp is op die toneel gekry en was reeds dood. Die verdagtes het dadelik na die moord gevlug.
Talle mense het onmiddellik hulp kom verleen en toegangsroetes versper, maar ten spyte daarvan het die soektog na die verdagtes teen Gazette se druktyd Dinsdag nog niks opgelewer nie.
Steenkamp se selfoon is Sondagaand sowat 900m van die plaas gekry waar dit in ‘n boom weggegooi is. Daar is toe nog onverpoosd gesoek na sy moordenaar/s asook sy 6.35mm pistool wat hy by hom gehad het.
Lede van LGV het Sondag op die toneel ‘n 9mm patroondoppie gekry. Daar word vermoed dat dit moontlik die wapen kan wees waarmee Steenkamp geskiet is.
Teen Maandagoggend is ook die hulp van die Sasolburgse honde-eenheid ingeroep om weer die toneel te fynkam.
Verskeie landbou-organisasies asook die VF Plus het Steenkamp se dood betreur, en het die VF Plus Sondag in ‘n verklaring gesê dat Steenkamp se moord die soveelste aanslag op die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap is.
“Die VF Plus het die vorige minister van polisie, mnr. Fikile Mbalula versoek om plaasaanvalle en –moorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en sal ook nou die nuwe minister, mnr. Beke Cele versoek om dieselfde te doen.”
“Hierdie is ʼn misdaad wat reuse maatskaplike en ekonomiese gevolge vir die ganse Suid-Afrikaanse gemeenskap inhou.”
“Dit bedreig lewens, voedselsekerheid en die ekonomiese welstand van honderde gesinne van geaffekteerde boere en plaaswerkers.”
Steenkamp se dood laat ‘n groot leemte in die Vredefort-gemeenskap, vir sy werkers, maar ook in die harte van sy vrou, Miekie, kinders, Barry en Mari-Lise, Hanna en Anton, en Marieke en Wynand, vyf kleinkinders en familie.
Steenkamp is in Vredefort gebore en het sy lewe lank in die distrik gewoon.
Hy was ’n baie bekende saai- en beesboer, mentor vir baie en gemeenskapleier wie se dood harte baie diep geraak het

Wyle Dirk Steenkamp
Sers. Manis van die honde-eenheid in Sasolburg op die plaas waar die polisie Maandag nog die moordtoneel gefynkam het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button