NewsNews

‘n Prinses wat daagliks haar eie drake oorwin

 Naduescha Fourie (18) is ‘n vegter met ‘n lewensverhaal waarvan dapperheid getuig. Naduescha het sedert die ouderdom van vier jaar al vinnig geleer om te veg vir haar lewe. In 2004 is sy met neuro electro tumor (senuweekanker of PNET) gediagnoseer. Sy veg tot vandag toe nog teen hierdie draak wat haar lewe gevange hou. …

In 2004 is sy met neuro electro tumor (senuweekanker of PNET) gediagnoseer. Sy veg tot vandag toe nog teen hierdie draak wat haar lewe gevange hou.
Sy het dapper teruggeveg met 52 weke se chemoterapie, vyf weke se bestraling en verlamming wat haar lewenskwaliteit baie beperk het. Sy het reeds verskeie voet-, been-, rug- en nekoperasies ondergaan en penne is ook in haar rug ingeplant.
Littekens is ook op haar baarmoeder gevind wat ‘n skeur in haar dikderm veroorsaak het, waarna sy vir ses weke met ‘n kolostomiesakkie moes funksioneer.
Haar ma Elize vertel dat haar pragdogter al 22 operasies ondergaan het sedert sy vier jaar oud was. Elke keer staan sy met hulp en ondersteuning van haar familie op en beveg die draak weer van voor af.
Haar sussie Miandi (12) en boetie Ricardo (8) ondersteun haar geweldig baie in haar daaglikse lewe.
Elize vertel ook dat haar dogter haar derde kwartaal verlede jaar moes mis as gevolg van die kolostomiesakkie, maar steeds bogemiddeld presteer het.


Sedert Januarie vanjaar ondergaan Naduescha elke twee weke operasies om die penne in haar rug te verwyder, nadat erge infeksie ingetree het.
Silikoon is in haar rug geplaas om haar vel te rek sodat haar wonde bedek kan word. Oor ses maande word die skroewe in haar rug weer ingeplant en tot dan sal Naduescha van ‘n rugstut en rolstoel gebruik moet maak.
Na al die operasies is daar ‘n ses weke herstelperiode en sal sy nie kan skoolgaan nie, weens die feit dat daar ‘n groot risiko vir infeksie is.
Talle operasies lê nog vir Naduescha voor. Daarom doen Ferdies ‘n beroep op die gemeenskap vir finansiële steun.
Hulle mikpunt is om R60 000 vir haar in te samel.
Naduescha is ‘n ware vegter met ‘n pragtige hart. Haar droom vir 2018 is om graad 12 suksesvol te voltooi, maar die gevolg is dat sy privaatonderrig by die huis benodig tot sy sodanig herstel het om terug te keer skool toe. Iets wat baie kinders as vanselfsprekend aanvaar in hul daaglikse skoolloopbaan.
Maar dié prinses van vegters se drome eindig nie daar nie. Haar ma vertel verder van haar kreatiewe dogter wat die mooiste kunsitems maak en dat sy volgende jaar kunsgrimering wil studeer.

Maak ‘n verskil

Help Ferdies om ‘n verskil te maak. Raak betrokke om Naduescha se droom om matriek aan die einde van 2018 te skryf, te bewaarheid. Vir meer inligting skakel Suzette du Toit by (018) 290 5539.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button