NewsNews

Waarskuwingsborde nodig sê inwoners, ná Vaalrivier nog ’n lewe eis

Vir baie is die hangbrug en Vaalrivier een van Parys se grootste en mooiste toerisme-aantreklikhede, maar vir  inwoners in die omgewing van die hangbrug is daar ook ander onthou. Die hartseer van verdrinkings wat gereeld gesien word. Die hartseer wanneer ’n liggaam hier uitgehaal word, vergeet jy nie. Vanoggend is die begrafnisdiens van Sebusiso Mathe, …

Vir baie is die hangbrug en Vaalrivier een van Parys se grootste en mooiste toerisme-aantreklikhede, maar vir  inwoners in die omgewing van die hangbrug is daar ook ander onthou. Die hartseer van verdrinkings wat gereeld gesien word.
Die hartseer wanneer ’n liggaam hier uitgehaal word, vergeet jy nie.
Vanoggend is die begrafnisdiens van Sebusiso Mathe, ’n  graad 4-leerder van Dome Primary School, wat verlede Dinsdagmiddag in die Vaalrivier verdrink het. Sy plekkie by die skool is leeg.
Etiaan Roos vertel dat hy die middag gaan draf het en omstreeks 16:30 verby die hangbrug is. Hy het ’n groepie seuns in die vlak water gesien swem.
Met die terugkom wou hy net draai toe hy die kinders hoor skree. Etiaan het dadelik besef daar is fout en omgedraai. Hy is in die water in en het na ’n paar minute se soektog,  vir Sebusiso uit die water gehaal. Hoewel die ambulansdiens en polisie gou op die toneel was, was dit té laat.
Die ontstellende vir inwoners in hierdie omgewing is dat daar al verskeie verdrinkings in die rivier spesifiek hier by die hangbrug was. Dikwels omdat mense nie die rivier ken nie, en nie vertroud is met stroomversnellings nie. Hul grootste kommer is dat veral kinders nie genoeg gewys word op die gevare van die rivier, veral wanneer daar verhoogde vloei is. Een van die inwoners het reeds in November verlede jaar ’n brief aan die Ngwathe burgemeester gestuur en ’n  boodskap aan haar kantoor, om sy kommer uit te spreek oor kinders wat in die rivier swem by Fickstraat.
Met geen munisipale swembad is dit te verstane dat mense graag hier wil swem, sê Johann Bosman, wykskomiteelid vir wyk 12, maar mense ken nie die gevare van die rivier nie. Sy brief is geskryf net twee weke nadat ’n  jong man ook naby die hangbrug verdrink het. In sy brief wys Bosman spesifiek op die gevare van die rivier as dit in vloed is ná swaar reën.
Hy vra in die brief dat kennisgewingborde langs die rivier opgesit behoort te word, veral naby die hangbrug om mense te waarsku. Behalwe vir kinders sien hy en ander inwoners in die omgewing van die hangbrug gereeld ook mense op die rivieroewer onder die invloed van drank. Dit opsigself skep ’n  groot gevaar wanneer daar minder ag geslaan word op veiligheid.
Ook DA-raadslid Saal de Jager het in ’n  skrywe aan die munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, gewaarsku oor die gevaar en gevra dat die munisipaliteit die nodige sal doen om mense bewus te maak van die gevare.
De Jager noem in sy skrywe dat daar selfs inwoners was wat bereid was om vir hierdie kennisgewingborde te betaal.
Nou, maande later, is steeds niks gedoen nie, en is naas die kennisgewingborde, dit nodig dat kinders ook by skole ingelig sal word oor waterveiligheid. ’n  Opvoedingstaak wat nie versuim mag word nie.
* Ons innige medelye met die gesin en familie van Sebusiso.

Polisielede praat  met van die kinders wat op die toneel was.

Dit is hier waar ‘n graad 4 leerling van Dome Primary verlede week Dinsdag in die Vaalrivier verdrink het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button