NewsNews

Parys-juffrou is land se heel beste

Lindie Daniel, rekenaarstoepassingstegnologie (RTT) onderwyseres van Hoërskool Parys, is die land se heel beste! Sy het tydens die 18de Nasionale Onderwystoekennings by die Sandton Konvensiesentrum die afgelope naweek, die Nasionale Onderwystoekenning vir Utnemendheid in Sekondêre Skoolonderrig ontvang. Die toekenning is aan haar oorhandig deur die minister van onderwys, Me. Angie Motshekga, en mnr. Enver Surty …

Lindie Daniel, rekenaarstoepassingstegnologie (RTT) onderwyseres van Hoërskool Parys, is die land se heel beste! Sy het tydens die 18de Nasionale Onderwystoekennings by die Sandton Konvensiesentrum die afgelope naweek, die Nasionale Onderwystoekenning vir Utnemendheid in Sekondêre Skoolonderrig ontvang.
Die toekenning is aan haar oorhandig deur die minister van onderwys, Me. Angie Motshekga, en mnr. Enver Surty (adjunkminister van basiese onderwys).
As prys het sy weggestap met ’n  motor en ’n  kontantprys.
Tydens die geleentheid het adjunkpresident Jeff Radebe die onderwysers geprys vir hul uitnemende prestasie. Die geleentheid sal op ’n latere datum op SABC2 uitgesaai word.
Lindie wat al 25 jaar in die onderwys is, is genomineer op grond van haar uitstekende graad 12-uitslae die afgelope paar jaar. Vir die afgelope 10 jaar het haar leerders ’n  100% slaagsyfer vir haar vak behaal.
Sy het ook in 2016 ’n  toekenning ontvang vir die beste uitslae vir RTT in die Fezile Dabi streek, en in 2017 ’n  derde plek.
Lindie is naas onderwyseres, ook lid van die bestuurspan van die skool waar sy op administratiewe gebied haar plek as departementshoof volstaan. Sy is betrokke by die matriekafskeid, Mnr. en Mej. Hoërskool Parys, prysuitdelings, agste vakonderwys, graadhoof van die graad 9-leerders en vakhoof vir RTT en alle Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe by haar skool.
Dan is sy ook nog administrateur van die skool se webblad en D6-skoolkommunikeerder. Sy is betrokke by die registrasies van al die atlete vir die jaarlikse Parys Zone-atlebiekbyeenkoms, en ’n  gekwalifiseerde beampte tydens swemgalas.
Haar skoolloopbaan het in 1993 begin waar sy as onderwyser en later waarnemende adjunkhoof by Weiveld Landbou- en Hotelskool was. Dit was dan ook hierdie leerders wat in hul tweede taal onderrig word, wat haar geïnspireer het om haar meestersgraad in onderrig en leer te voltooi.
Om in aanmerking te kom vir die nasionale toekenning moes sy aan talle uitdunrondtes deelneem. Die proses bestaan uit ’n  aanbieding van 35 minute en verskeie  onderhoude.
Sy was die Fezile Dabi-streekfinalis en is in 2017 by ’n  gala-geleentheid in Bloemfontein as die Vrystaatse wenner aangekondig. Tydens hierdie geleentheid het LUR Tate Makgoe verskillende pryse aan haar oorhandig waaronder ’n  televisie, skootrekenaar, drukker, kamera en kontantpryse.
Lindie bedank die skool en die gemeenskap wat haar ondersteun het in die proses wat die toekenning vooraf gegaan het, en sê dat sy baie trots is om met Hoërskool Parys en sy leerders geassosieer te word.

Related Articles

Back to top button