NewsNews

VF Plus eis optrede oor Ngwathe-wanbestuur

Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit se ouditverslag wat op die pas afgelope vergadering van die raad ter tafel gelê is, lees soos ‘n rillerverhaal met reuse verliese, tekortkominge en ‘n gekwalifiseerde ouditmening, sê Phillip van der Merwe, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit. Van der Merwe sê die munisipaliteit wat Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville bedien, sluit …

Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit se ouditverslag wat op die pas afgelope vergadering van die raad ter tafel gelê is, lees soos ‘n rillerverhaal met reuse verliese, tekortkominge en ‘n gekwalifiseerde ouditmening, sê Phillip van der Merwe, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.
Van der Merwe sê die munisipaliteit wat Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville bedien, sluit die 2016/2017-finansiële jaar af met ‘n verlies van R191.6 miljoen, terwyl sy laste sy bates met R927.7 miljoen oorskry. Hy sê die munisipaliteit se Eskomskuld beloop luidens die verslag bykans R759 miljoen, alhoewel ‘n afbetalingsooreenkoms vroeër met die elektrisiteitsverskaffer aangegaan is om te verhinder dat elektrisiteitsvoorsiening aan die munisipale gebied gestaak word.
“Daar is geen sanksies of gevolge vir hierdie blatante wanbestuur wat veroorsaak het dat die munisipaliteit sulke astronomiese verliese ly nie. Die vrugtelose en verkwiste, asook onreëlmatige uitgawes wat deur die munisipaliteit aangegaan is, beloop ook reuse bedrae en is totaal onaanvaarbaar.”
“Daar word nie behoorlik ondersoek na hierdie verliese gedoen nie, en amptenare wat verantwoordelik is vir die blatante vermorsing van ons as belastingbetalers se geld, kom net eenvoudig skotvry daarvan af,” sê Van der Merwe.
“Luidens die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag het die munisipaliteit in dié finansiële jaar R102 miljoen se onreëlmatige uitgawes aangegaan, wat beteken dat die uitgawes aangegaan is sonder dat die voorgeskrewe wetlike prosesse gevolg is.”
“Daar is ook sowat R103 miljoen bestee aan vrugtelose en verkwiste uitgawes, wat insluit betalings aan rentes en boetes weens die munisipaliteit se versuim om skulde, soos onder meer aan Eskom, betyds te betaal.”
Die verslag bepaal voorts dat sowat 62% van die elektrisiteit en 54% van die water wat deur die munisipaliteit aangekoop word, bloot verlore raak. Dit kan toegeskryf word aan wanbetaling, swak bestuur en min tot geen onderhoud en opgradering van infrastruktuur.
Die OG verwys  na verskeie wetlike voorskrifte met betrekking tot die finansiële state wat bloot verontagsaam is. Die state voldoen nie aan die bepalings van artikel 122 van die Wet op Munisipale Finansies nie, en is ook laat ingedien. Die jaarverslag voldoen ook nie aan tersaaklike munisipale wetgewing nie.
“Hierdie tekortkominge, wat deur die OG uitgewys is, was redelikerwys voorsienbaar, maar dit wil voorkom of die amptenary van Ngwathe nie oor die nodige vermoë of wil beskik om dit betyds en effektief te behandel nie.”
Die OG se waarskuwing dat die munisipaliteit waarskynlik nie meer as ‘n lopende saak kan funksioneer nie is uiters kommerwekkend, sê Van der Merwe.  Dit beteken dat die reeds gebrekkige dienslewering en ander funksies waarvan die gemeenskap van Ngwathe afhanklik is, sal versleg of net eenvoudig nie meer gelewer sal word weens ‘n gebrek aan behoorlike bestuur deur die ANC-regering.  “Die VF Plus sal ‘n skrywe aan die LUR van plaaslike regering rig waarin ons haar sal versoek om onmiddellik in te gryp met betrekking tot die wanbesteding en nie-nakoming van die nodige wetlike vereistes deur die munisipale bestuur van Ngwathe,” sê Van der Merwe.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button